Moet Markram Wêreldbeker toe gaan?

Aiden Markram se spelpeil was witwarm vir die Titans. Foto: GB Jordaan.

Om ’n honderdtal in enige eindstryd te slaan – maak nie saak of die skeidregters ’n paar twyfelagtige beslissings gemaak het ofte nie – dui op ’n speler wat sy bes doen om kalm in ’n  drukkoker-situasie te bly.

Aiden Markram het Sondag op SuperSport Park 127 lopies van 88 aflewerings in die eindstryd van die Momentum-beker geslaan. Sy honderdtal – wat hy van 75 balle bereik het – het agt sesse ingesluit.

Sy beurt het gesorg dat die Titans ’n reusagtige 356/5 in hul toegelate 50 boulbeurte teen die Dolphins aangeteken het – die hoogste eendagtelling in Centurion.

Die 24-jarige kolwer het in net vyf Momentum-wedstryde die meeste lopies in die reeks geslaan, terwyl hy drie skitterhonderdtalle aangeteken het.

Hy het teen ’n gemiddeld van 108 lopies per beurt gekolf en sy lopies teen ’n treftempo van 132 geslaan. Sy 542 lopies is bykans 100 lopies meer as Kyle Verreynne in die tweede plek. O ja, Verreynne het 10 wedstryde vir die Cobras gespeel om sy 453 lopies aan te teken.

Markram is ook op pad om graafskapkrieket in Hampshire te speel en te midde van die publiek se Kolpak-vrese glo kenners weer dat die Protea-kolwer hom so gereed moontlik vir die Engelse toestande wil kry. Die Wêreldbeker word immers in Brittanje aangebied.

Hy sal onder meer in sewe eendagwedstryde vir die graafskapspan in aksie wees, terwyl hy saam met Rilee Rossouw en Kyle Abbott (albei Kolpak-spelers) sal speel. Later in die seisoen sal hy ook teen Morné Morkel te staan kom.

Maar belangriker as dit: Hy gaan op Lord’s, die Oval, Old Trafford, die Ageas Bowl en elders speelkans kry. Om gewoond te raak aan die Britse blaaie is belangrik vir enige kolwer op die vooraand van ’n Wêreldbeker.

In twee eendagwedstryde teen Sri Lanka was sy gemiddeld 96. Foto: Cricinfo.

Terwyl talle dink hy kan nie die druk op die internasionale verhoog hanteer nie, vergeet hulle dat hy toetshonderdtalle teen Austalië geslaan het. En hoewel dit nie teen die boulaanval van McGrath/Lee/Gillespie/Warne was nie, is ’n honderdtal teen die Aussies glad nie te versmaai nie.

Moet Aiden Markram dus Wêreldbeker toe gaan?

“Natuurlik,” sê Jacques Rudolph. Dié voormalige Protea-kolwer behoort te weet waarvan hy praat. Hy het lank vir Yorkshire graafskapkrieket gespeel en was een van die klub se staatmakers.

Boonop praat hy die nasionale breier, Ottis Gibson, se taal.

“Hy moet gaan, want sy spelpeil is tans uitstekend,” het Rudolph bygevoeg.

Gibson het juis gesê dat hy sy span volgens spelpeil gaan kies, en nie volgens ’n speler se reputasie nie.

Markram is ook saam met Kyle Verreynne in Makhaya Ntini se Wêreldbekergroep aangewys. Ntini het sy spankeuses op Twitter gedeel.

Toegegee, Markram se eendagrekord vir die Proteas is nie té waffers nie. Maar as mens na al die lopies kyk wat hy vir die Titans geslaan het, asook sy wíl om vir die Wêreldbekerspan te speel, kan sy insluiting beslis geregverdig word.

  • Ntini se Wêreldbekergroep: Faf du Plessis, Quinton de Kock, Rassie van der Dussen, Reeza Hendricks, David Miller, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Imran Tahir, Andile Phehlukwayo, Dale Steyn, Kyle Verreynne, JP Duminey, Chris Morris en Tabraiz Shamsi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

REINIER ·

saam maar moet nie die beurt open nie.Sy groot tellings kon nie wanneer hy oopmaak nie.Sal hom op no 4 kolfas jy nie rassie speel nie

Luiperd ·

Rassie is beslis die beter opsie, Markram is nog nie reg vir internationale krieket nie. Nog nie 1 “groot score” vir die proteas aangeteken nie. 18 beurte, n highscore van 67 en en 2 vyftigs is nie par nie.

J ·

Hy’t al te veel bewys internationale krieket is nog bietjie groot vir hom, n HS 67* is nie goed genoeg nie. Rassie is by verre die beter opsie.

Karl ·

Ek stem @J, laat my dink aan Richard Levi, great op local vlak, maar international is daai trappie te hoog op die stadium, miskien volgende worldcup, maar beslis nie die jaar nie. Nog nie reg nie.

Kyle ·

As jy kyk na local lopies dan is selfs Elgar n beter roep as ou Aiden.

Jack Russl ·

Weet nie na watter “local lopies” jy gekyk het nie, maar as dit daarop gebaseer is, dan staan Elgar nie ‘n kans nie.

In die afgelope reeks het Markram 542 lopies gemaak in 5 wedstryde teen ‘n tempo van 132.84 en gemiddeld van 108.40. In dieselfde reeks het het Elgar in 8 wedstryde gekolf en 340 lopies gemaak teen ‘n tempo van 103.65 en gemiddeld van 42.50.

Kyle ·

@Jack Russl, oor loopbaan, nie net 1 ou series nie. Hy kon nie eens perform teen SL nie. Net toe hy EEN van sy TWEE vyftig talle aangeteken het. Punt bly staan, hys nie opgewasse vir internationale krieket nie, nog nie, volgende world cup ja, maar 2019, not a chance. Ook gese as hy nie n kolpak deal gaan vat nie.

Jack Russl ·

Selfs al kyk jy oor sy loopbaan is Markram se syfers beter. Elgar is nie ‘n eendag speler nie, toetse ja. Maar selfs al kyk jy na die toets syfers het Markram die oorhand.

Markram het vreeslik sleg gedoen in die SL eendagreeks. 2 wedstryde gespeel en 7de meeste lopies aangeteken, met die hoogste gemiddeld. Waar was Elgar as hy so goed is? In die SL toetsreeks het Markram meer as dubbel die lopies aangeteken as Elgar.

Markram is op vorm en was al deel van die Proteas, hy hoort daar

Edrich ·

Ek comment nie gewoonlik nie maar Aiden Markram is tans in n klas van sy eie. Ek het nie gedink iemand sal ooit naby aan Jacques Kallis se aantal lopies kom nie maar dink regtig dat Markram (mits hy n protea bly) die beste kans het

Lourence ·

@Edrich, waar val jy uit? Kallis? not a chance! Hy kon nie eens tuis teen SL perform nie, hy is nie opgewasse vir Internationale krieket nie, nes Levi van destyds, briljant in local krieket, maar daai trappie is net nog so bietjie hoog, volgende WC ja, maar die jaar…nope.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.