Bestendige Brad eindig vierde in Portimao

Brad Binder (Foto: Red Bull KTM/X)

Daar is min dinge so onvoorspelbaar soos MotoGP-renne.

Dit is hoekom dit nie ʼn verrassing is dat enigeen van tien jaers op enige dag enige wedren kan wen nie, ook Brad Binder.

Die jaers het almal uitsonderlike bestuursvernuf en vaardighede, hulle het nie een ’n bang haar op hul koppe nie en jaag meestal op ewe vinnige fabrieksvoorbereide renfietse.

Dit is hoekom bestendigheid ʼn baie groot rol speel om op die podium te eindig. Dis die rede waarom Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) so hoog geag word en een van die gunstelinge is om vanjaar, of dan binnekort daarna, wêreldkampioen te word.

Nadat Binder twee weke gelede in Katar tweede in die naelren en tweede in die hoofren geëindig het en ook die tweede plek op die kampioenskapspuntelys beklee het, is sy kanse Saterdag in die Portugese MotoGP se naelren bederf toe hy geval het en geen punte verdien het nie.

Maar Sondag in Portimao het Binder sy bynaam van BB33 (noem hom maar Bestendige Brad) weer gestand gedoen toe hy vierde in die MotoGP geëindig het.

Binder, wat tiende weggespring het, het ná die wegspring tot agtste opgeskuif en ʼn paar rondes later tot sewende verbeter.

’n Podiumplek was hom nie beskore nie, maar nadat die huidige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo), die voormalige wêreldkampioen Marc Marquez (Gresini Ducati) asook Maverick Vinales (Aprilia) voor hom geval het, het Binder in die laaste twee rondes met drie plekke opgeskuif.

Die MotoGP is deur Jorge Martin (Prima Pramac Ducati) gewen, gevolg deur Enea Bastianini (Ducati Lenovo), die groentjie Pedro Acosta (GASGAS), Binder, Jack Miller (Red Bull KTM) en Marco Bezzecchi (VR46 Ducati).

Binder wat ná Saterdag se naelren tot derde op die kampioenskapspunteleer afgeskuif het, is nou weer tweede nadat Bagnaia geen punte verdien het nie.

Martin is voor (60 punte) gevolg deur Binder (42), Bastianini (39), Bagnaia (37), Acosta (28) en Marc Marquez (27).

Die volgende MotoGP is die Amerikaanse MotoGP wat oor drie weke op die Circuit of the Americas in Texas plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Ag siestog,jy kan nie wêreldkamoion word as jy wedrenne wen nie.Not good enough Brad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.