MotoGP: Binder se soet word suur

(Foto: JAN WOITAS / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

Die hooftafel was voor 116 000 toeskouers gedek, Brad Binder het daarby aangesit, maar toe word die stoel met 12 rondes oor in Sondag se Duitse MotoGP op Sachsenring wreed onder hom uitgepluk.

Binder (Red Bull KTM) het agtste in die MotoGP weggespring en daar was groot afwagting vir ʼn moontlike podiumplek.

Binder was aanvanklik in die negende wegspringposisie, maar nadat Marc Marquez (Repsol Honda) vyf keer die naweek geval het, is hy Sondagoggend weens ʼn gebreekte vinger en ander beserings onttrek en het Binder een posisie opgeskuif.

Binder het oudergewoonte goed weggespring en was ná slegs ʼn paar rondes in die derde posisie en op pad ná ʼn plek op die podium.

Met Johann Zarco (Pramac Ducati) op sy hakke, het Binder in die 19de ronde geval en oor die gruis geskuif. Hy het dronk-dronk opgestaan en voortgestrompel, na sy kop gewys terwyl beamptes hom bygestaan het.

Hopelik het hy nie harsingskudding opgedoen nie.

Binder was voor die naweek nog vierde op die puntelys, maar sy soet het gou suur geword toe hy sesde in Saterdag se naelritren was en nie Sondag se MotoGP kon voltooi nie. Hy is nou deur Zarco, wat ook Saterdag voor hom geëindig het, ingehaal en verbygesteek.

Die Grand Prix is deur Spanje se Jorge Martin (Pramac Ducati) gewen met die huidige wêreldkampioen, Francesco (Pecco) Bagnaia (Ducati Lenovo) op sy agterwiel.

Bagnaia het in die laaste draai langs Martin ingeskuif, maar die Spanjaard het sy voorsprong behou en slegs 0.060 sekondes voor Bagnaia oor die eindstreep gejaag.

Zarco was derde, Marco Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati) vierde, Luca Marini (Mooney VR46 Ducati) vyfde en Binder se Red Bull KTM-spanmaat, Jack Miller, sesde.

Dit was Martin se tweede oorwinning (MotoGP en naelritren) in vanjaar se reeks. Hy het die punteverskil op die kampioenskapspuntelys tussen hom en Bagnaia tot net 16 punte laat krimp nadat hy 37 punte met die naweek se twee oorwinnings ingeoes het.

Bagnaia spog met 160 punte, gevolg deur Martin (144), Bezzecchi (113), Zarco (109), Binder (96), Luca Marini (78) en Miller (79).

Die volgende MotoGP, die agtste in vanjaar se reeks, is komende naweek se Nederlandse MotoGP op die Assen-baan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.