In ’n wipplankwedstryd wen die persoon wat die swaarste weeg dikwels die tweestryd. En gisteraand op die LC de Villiers-stadion in Pretoria het die Maties se durf en vasberadenheid om te wen, ’n bietjie swaarder as dié van die Pretorianers geweeg.
Die Kapenaars het ’n rustyd-agterstand van 12-14 in die tweede helfte uitgewis om welverdiend met 26-24 te wen.
Tukkies het egter gedink hulle het die opwindende wedstryd laat in die tweede helfte beklink, maar Ruan Nortjie se drie is weens ’n aanslaan nie toegeken nie.
In Bloemfontein het CUT ’n geskiedkundige eerste oorwinning oor die Universiteit van Johannesburg behaal. Die tuisspan het drie drieë teenoor die besoekers se vier gedruk, maar dit was uiteindelik die skopskoen van Heinrich Bitzi wat die verskil op die telbord beteken het.
Hy was suksesvol met drie doelskoppe en twee strafskoppe.
Met die telling op 26-elk het die Shimlas in die doodsnikke van hul kragmeting teen Wits met die louere weggestap. Die Bloemfonteiners het uiteindelik met 33-26 geseëvier.
Die Pukke was hopeloos te sterk vir die Universiteit van die Wes-Kaap en het vyf drieë gedruk om met 37-21 te wen
Die oud-losvoorspeler van UJ, Wian Conradie, is as die Pukke se ‘Player that Rocks’ aangewys.
- Maties 26-24 Tukkies
Maties: Drieë: Munier Hartzenburg, HJ Luus, Jordan Chait, Daniel Jooste. Doelskoppe: Chait.
Tukkies: Drieë: Etienne Janeke, Werner Fourie, Bart le Roux. Doelskoppe: Tinus de Beer (3). Strafskop: De Beer.
- Shimlas 33-26 Wits
Shimlas: Drieë: Jan-George Rossouw, Henk Pretorius, Izak Burger, Marnus Boshoff, Rewan Kruger. Doelskoppe: Lubabalo Dobela (4).
Wits: Drieë: Cal Smid, CJ Conradie, Reynard Cronje, Ruan Cloete. Doelskoppe: Kurt Webster (3).
- CUT 27-26 UJ
CUT: Drieë: Anrich Alberts, Hardus Nel, Ruben Cross. Doelskoppe: Henrich Bitzi (3). Strafskoppe: Bitzi (2).
UJ: Drieë: Odwa Nkunjana (2), Stephen Bhasera, Shawn Willimas. Doelskoppe: Jean-Luc Cilliers (2).
- Pukke 37-21 UWC
Pukke: Drieë: Robert Hunt, Evardi Boshoff, Wandi Mazibuko, Louis van der Westhuizen, Wian Conradie. Doelskoppe: Schalk Hugo (5).
UWC: Drieë: Juanre de Klerk (2) en Tristan Leyds. Doelskoppe: Keagan Fortune (2).
Ek wil nie graag die skeidsregter storie begin nie, maar ek gaan :) Die skeidsregter in die Maties/Tukkies wedstryd het teen die einde darem ‘n paar twyfelagtige “hoogvat” starfskoppe teen Maties uitgedeel. Wanneer gaan skeidsregters besef dat hulle nie die middelpunt van die spel is nie. Dit gaan oor rugby.