’n Kwagga wat ’n Skot kan word

Cristen “Kwagga” van Niekerk op volle vaart vir die Leeus. Die moontlikheid is sterk dat hy binnekort sy heil in Skotland kan soek. Foto: Facebook.

“Ek glo dit sal in Skotland wees,” is Cristen “Kwagga” van Niekerk se doodeerlike antwoord toe hy gepols word oor waar hy dink hy die beste kans het om ’n loopbaan van rugby te maak.

Met spelers soos Josh Strauss, CJ Stander en Brad Barritt wat hul rugbyheil in die Verenigde Koninkryk gevind het, is daar ’n moontlikheid dat dié talentvolle Suid-Afrikaner óók in hul voetspore kan volg.

Van Niekerk het in Skotse kleure teen Wallis se o.19’s uitgedraf en die kragmeting het waarskynlik as ’n proeflopie gedien vir ’n moontlike professionele loopbaan in Doedelsakland. Hy was een van die Skotte se sterspelers  en het veral met sy grootte en kragspel in dié wedstryd beïndruk.

Hy het verlede jaar reeds vir Skotland in ’n o.19-wedstryd teen Wallis gespeel. Foto: verskaf.

Volgens ontleders het hy meer as genoeg gedoen om in die Skotte se o.20-span vir die komende Junior Wêreldbekertoernooi, en dan vir die Sesnasies-reeks, ingesluit te word.

“My droom is om ’n sukses van rugby te maak en om deur rugby eendag vir my gesin te sorg – maak nie saak waar dit mag wees nie. Ek volg die deur wat die Here vir my oopmaak.”

Die jong losvoorspeler is ’n oudleerling van Hoërskool Monument in Krugersdorp en het onder meer vir twee agtereenvolgende jare vir die Leeus se Cravenweekspan uitgedraf, terwyl hy ook die SA Skolespan gehaal het. Ná skool het hy vir die Johannesburgers in die o.19-Curriebeker en op 18-jarige ouderdom in die SuperSport Uitdaagtoernooi gespeel.

Van Niekerk is reeds beskikbaar om vir Skotland te speel, omdat sy oupa daar gebore is. Hy is die neef van die voorspeler, Nathan McBeth, wat al vir die Skotte in die Sesnasies-reeks gespeel het.

“Die lewenstandaard in die Verenigde Koninkryk is wel baie hoër, maar tog voel ek wat rugby betref – veral as ʼn mens na die skool- en o.19-kompetisies kyk – is die strukture wat jy in Suid-Afrika kry baie beter as dié van die Skotte. Hier is daar meer blootstelling en meer talent teen wie jy jouself kan meet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gatvol ·

Maak gebruik van hierdie kans. Moontlik is daar nog wat gaan volg. Moet asb nie weer val vir allerhande beloftes hier by ons nie.

Smirre ·

Gaan Cristin hoop jy maak ‘n reuse sukses en speel sommer vinnig vir Skotland. Kom uit die lokale rugby sirkus waar politiek en kwotas die spel breek. Bokke gedoem om oor 5 jaar geen impak op wereldruby te maak nie.

JOHAN ·

Gaan my maat . Springbok kleure beteken vandag niks. Middelmatige spul

JOHAN ·

Gaan my maat . Springbok kleure beteken vandag niks. Middelmatige spul

Khosa Junior Rugby ·

Die kere wat jy by KHOSA Junior Rugby club kom kuier het, het jou motiveering en passie ons jong spelers so aan geraak. Jy speel nie net goed rugby nie, jou motivering is fantasties.
Ons is baie trots op jou!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.