ʼn Lewensles van een van CrossFit se fiksstes

Rich Froning het vir vier agtereenvolgende jare die CrossFit Spele gewen. Foto: Facebook.

Die CrossFit Ope is tans in volle swang en met meer as 400 000 deelnemers, is dit waarskynlik een van die grootste sportkompetisies ter wêreld. Probeer jou net indink as soveel atlete gelyktydig die Ironman sou aanpak. Moeilik om te visualiseer, nie waar nie?

Tog sweet derduisende CrossFitters weekliks by hul plaaslike gimnasiums om van 21 Februarie tot 25 Maart hul beste tye op te stel. Alles in ’n poging om nie net vir die CrossFit Spele in Wisconsin te kwalifiseer nie, maar ook om hulself uit te daag.

In Suid-Afrika is dit net so gewild, met gimnasiums wat links en regs geopen word en CrossFit-foto’s wat gereeld op sosiale media gedeel word.

Maar een van dié sportsoort se grootste helde, Amerika se Rich Froning, sê CrossFit het vir hom ʼn baie groter lewensles meegebring. En hy behoort te weet waarvan hy praat.

Die 31-jarige Froning was vir vier agtereenvolgende jare as die Fiksste Man op Aarde gekroon, terwyl sy CrossFit Mayhem-gimnasium in Tennessee uitstekend in die spankompetisies vaar. Hoewel hy ’n stil begin tot vanjaar se Ope gehad het, het hy 19.2 gewen, terwyl hy 19.3 in die agtste vinnigste tyd voltooi het. In CrossFit-leketaal is dit die tweede en derde oefenuitdaging van die Ope.

Sy storie begin egter in 2010, toe hy in die Spele voorgeloop het. Maar ’n swak touklimsessie het sy kanse om goud by daardie jaar se Spele te wen in die wiele gery. Hoewel hy steeds tweede klaar gemaak het, was hy platgeslaan.

In aksie tydens vanjaar se Ope. Foto: Facebook.

“Ek het van CrossFit ’n afgod gemaak en toegelaat dat dit definieer wie ek is. Basies het ek my waarde as individu in CrossFit geplaas. Hoewel ek in ’n Christenhuis grootgeword het, het my verhouding met die Here nooit vir my persoonlik gevoel nie,” het hy  in ’n onderhoud aan CBN.com gesê.

Kort daarna het hy weer die Bybel in diepte begin bestudeer en opnuut sy lewe aan die Here gewy.

“Alles wat ek in die Nuwe Testament gelees het, was op my lewe van toepassing. Dit is soos hulle sê ’n Lewende Woord en dit was lekker om dit vir die eerste keer self te ervaar en nie net die woorde op die papier te sien nie.”

Een van die versies wat vir Froning uitstaan, is Galasiërs 6:14: “Maar ek – ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus Christus nie. Want daardeur is die wêreld vir my gekruisig, en ek vir die wêreld.”

Hy vertel dat sy prioriteite daarna onmiddellik verander het. “Ek het nie meer gevra wat die Here vir my kan doen nie, maar wat ék vir Hóm kan doen.”

Hy is vier agtereenvolgende jare (2011, ’12, ’13 en ’14) as die CrossFit-kampioen gekroon en in die proses het hy ook ’n geloofskampioen geword.

“Om Jesus eerste in my lewe te plaas, het die druk van my skouers gehaal. Ek weet dat wat ek ook al doen, is nie vir myself nie. Dit gaan nie oor die CrossFit Spele óf om vier keer met die Fiksste Man op Aarde-titel weg te stap nie. Dit gaan oor die Here en die gawes wat Hy my gegee het. En ek wil sy naam groot maak deur my sport.”

  • Mat Fraser is tans die voorloper in vanjaar se CrossFit Ope. Die volgende oefensessie (19.5) word Vrydag aangekondig. Froning is in die 38ste plek, maar neem die afgelope paar jaar in spanverband aan die Spele deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ansa Hart ·

WOW! Voorwaar ‘n pragtige storie. Dankie dat julle dit met ons gedeel het.

Mark ·

Dit klink baie goed en as Christen is dit verblydend dat die berig oor Christene gaan. Kan MM net meer besonderhede gee oor Crossfit en wat dit is en behels asseblief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.