Ná groot ongeluk steeds ’n fietsrykampioen!

Palesa Manaleng bly glimlag! Foto: Verskaf.

Elke mens het ’n storie; party se hoofstukke lees net ’n bietjie anders as dié van die res. En die 31-jarige Palesa Manaleng se verhaal is gevul met vasberadenheid, sukses en net ’n pleinweg kanniedood-houding.

Vier jaar gelede was sy platgeslaan. Enige droom wat sy gekoester het om ’n sportvrou te wees, het aan skerwe gelê ná ’n ernstige fietsryongeluk. Haar fiets se remme het tydens ’n afdraande die gees gegee en sy het teen ’n heining naby die Universiteit van Johannesburg se rugbystadion gebots.

’n Ontwrigte ruggraat, twee gebreekte ribbes, longskade, ’n fraktuurbreuk in haar skouer en kopbeserings het gesorg dat sy voortaan as ’n parapleeg bekend sou staan. Sy is verlam van haar middel ondertoe.

Hoewel sy aanvanklik kwaad was oor die kaarte wat die noodlot aan haar uitgedeel het, het sy net eenvoudig besluit dat sy ’n sukses van haar lewe gaan maak, eerder as om in sak en as te sit.

“Ek het ’n tweede kans in die lewe gekry en ek moes kies of ek net wou aanhou voortploeter, en of ek werklik wou lééf,” het sy Donderdagmiddag aan Maroela Media gesê.

Die 31-jarige sportster is deesdae die nasionale handfietsrykampioen ná sy die SA Kampioenskap vroeër die maand in Pretoria gewen het.

“Ek kan steeds fietsry … en dit is wónderlik. Ja, dit is moeiliker om met jou hande te ‘trap’ – veral opdraande; maar daar is letterlik niks in die wêreld wat die gevoel van vryheid wat fietsry jou gee, klop nie.”

Handfietsryers kan steeds snelhede van tot 70km/h handhaaf. Foto: verkaf.

“Handfietsry het my die vryheid teruggegee wat ek aanvanklik gedink het ek met my ongeluk verloor het. Dit is amper asof ek leer vlieg het.”

En moenie dink dit is veel stadiger as “normale” fietstrap nie. Handfietsryers kan snelhede van tot 70 km/h handhaaf.

Manaleng werk vir e-Nuus en is ’n voltydse student aan die Universiteit van Johannesburg. Dus word haar oefentye rondom haar werk en studie geskeduleer.

“Op my af dae gaan oefen ek saam met my afrigter in Muldersdrift om my uithouvermoë op standaard te kry. Wanneer ek wel moet werk, probeer ek om so gereeld moontlik by die gimnasium ’n draai te maak.”

Het haar drome aangepas sedert haar ongeluk? Waarskynlik nie.

“Ek wil die beste atleet wees wat nog ooit geleef het. Ek wil Suid-Afrika in die internasionale arena verteenwoordig en ek wil parapleë inspireer,” sê sy met ’n stralende Colgate-glimlag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Sterkte vir jou ek haal my ? af vir jou. Waar n wil is, is daar n weg.

Riem onder die hart ·

Soms gee mens jou so lekker warm gevoel binne – jy het dit nou vir my gegee! Welgedaan, ek makeer niks en ek is nie eens so vasberade soos jy nie!
Mag jy al jou doelwitte bereik en jou drome waar word!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.