Nche óók geskors

Ox Nche is ook geskors. Foto: Facebook.

Die Toyota Cheetahs se stut, Ox Nche, is vir agt weke geskors ná ’n dissiplinêre verhoor Woensdag via ʼn video-konferensie.

Die tugkomitee het in Skotland byeengekom om Nche se geelkaart in ’n wedstryd teen Leinster op 1 Maart te bespreek. Die voorval het in die negende minuut van dié kragmeting plaasgevind toe die Vrystater vir Fergus McFadden met sy skouer bygedam het.

Nche is uitgewys en aangekla omdat hy na bewering Reëls 9.12 en 9.25 oortree het. Luidens dié reëls mag ’n speler nie iemand fisiek aanrand nie en jy word nie toegelaat om ’n teenstander bewustelik te storm as hy pas die bal geskop het nie.

Die tugkomitee het uit Kathrine Mackie, Roddy MacLeod en Ian Douglas bestaan en hulle het besluit dat Nche skuldig is aan vuilspel.

Hulle het bevind dat Nche se spel ’n rooikaartoortreding onder Reël 9.12 (stamp met die skouer) is en dat die kontak met McFadden se kop opsetlik was. Staf vir só ’n oortreding is tien weke op die kantlyn.

Die Vrystater se voortreflike rekord is egter in ag geneem en sy straf is na agt weke verminder.

  • Dit is die tweede Cheetah-speler wat die gramskap van die Pro14-tugkomitee op die lyf geloop het. Vroeër is hul senter, Nico Lee, vir 13 weke geskors omdat hy sy neus in ’n Connacht-speler se gesig gesnuit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Isak ·

Kyk na hulle trui se kleur. En dit is omdat Cheethas is. En n suid afrikaanse span is. Dit sal met geen ander land se spelers gebeur nie.

Peter ·

@Isak, jy’s nou n tiepies Saffa, as dit nie die ref is nie, is dit iets anders, hy was duidelik, BAIE duidelik ver oor die reels, nou soek jy verskoning?? Nee wat, tyd dat Saffas op hul plek gesit word.

Hannes ·

Ag nee Isak, kom by. En wat van die vieslike optrede van Nico Lee? Dit is omdat mense vandag alles wat orde skep wil wegwens dat ons land in hierdie toestand is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.