Nieu-Seelanders laat rugby lekker lyk

Ngani Laumape het die Hurricanes se laaste drie gedruk. Foto: Facebook.

Goeiste, maar dit is lekker om Nieu-Seelandse rugby te kyk! Die têkkels is kliphard, die drieë is meer soos ’n Rolls Royce as die rukkerige geknor van ’n grassnyer-knortjor en hanteerfoute is veel skaarser as dansbewegings streng volgens choreografie by ’n Kurt Darren-vertoning.

Die Hurricanes het Vrydagoggend die Highlanders in ’n vertoonwedstryd met 31-28 geklop. Uiteindelik was net Beauden Barrett se strafskop die verskil op die telbord tussen dié twee spanne.

Met die rustydtelling gelykop 14-elk, het die Hurricanes eerste in die tweede helfte punte aangeteken, danksy dáái Barrett-strafskop.

Maar daarna was dit tyd vir die Highlanders om die puntekrane behóórlik oop te draai en Kayne Hammington en James Lentjes het gaan druk om die telling 28-17 in hul guns te swaai.

Een ding van die Nieu-Seelandse spanne is dat hulle gemaklik na ’n hoër rat kan oorskakel; gewoonlik iewers laat in die tweede helfte. En dit is presies wat die ’Canes toe gedoen het.

Ardie Savea se tweede drie was ’n absolute juweel en toe Ngani Laumape sy gebruiklike drie gedruk het, het hulle ’n agterstand van 11 punte uitgevee om uiteindelik met drie punte te wen.

Die twee spanne het inderdaad rugby lekker laat lyk.

  • Puntemakers:

Hurricanes: Drieë: TJ Perenara, Ardie Savea (2), Ngani Laumape. Doelskoppe: Beauden Barrett (4). Strafskop: Barrett.

Highlanders: Drieë: Shannon Frizell, Ash Dixon, Kayne Hammington, James Lentjes. Doelskoppe: Marty Banks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.