Nóg tien medaljes in span SA se vertoonkas

(Foto: X/Team SA)

Suid-Afrika het Woensdag nog tien medaljes by die Afrika-spele in Ghana ingeoes. Dit beteken dat die span nou tweede op die amptelike medaljepunteleer is.

Daar is nou altesaam 22 goue, 22 silwer- en 34 bronsmedaljes in die Suid-Afrikaners se Spele-vertoonkas.

Catherine van Rensburg is tans die grootste ster met haar vyf individuele medaljes (vier goud en een brons), gevolg deur Caitlin de Lange (twee goud en twee silwer).

Al twee sportvroue verteenwoordig Suid-Afrika in die swembad.

Intussen het die vrouekrieketspan ʼn dramatiese eindstryd teen Zimbabwe verloor. Die gouemedaljewenner is deur ʼn superboulbeurt beslis nadat al twee spanne 112 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken het.

Suid-Afrika kon egter net twee lopies in dié boulbeurt slaan en Zimbabwe het vinnig die wenlopies gemoker.

Die Spele word tot 23 Maart in Akkra aangebied.

Suid-Afrika se goue medaljes:

Catherine van Rensburg: Swem (400 m-vryslag, 800 m-vryslag, 400 m- individuele wisselslag en 1 500 m-vryslag)

Caitlin de Lange: Swem (100 m-vryslag en 50 m-rugslag)

Simone Moll: Swem (50 m-borsslag en 100 m-borsslag)

Haylee Preen: Fietsry (vroue-elite en padfietswedren)

Georgia Els: Swem (200 m- individuele wisselslag)

Clayton Jimmie: Swem (100 m-vryslag)

Jonah Pool-Jones: Swem (50 m-rugslag)

Swemspan: 4 x 100 m-vryslag (mans), 4 x 200 m-vryslag (vroue), 4 x 100 m-wisselslag (vroue), 4 x 100 m-vryslag (gemeng), 4 x 100 m-wisselslag (gemeng), 4 x 100 m-wisselslag (mans)

Johanita Scholtz: Pluimbal

Jasmine Martin: Judo

Dillon Geary: Fietsry

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Ai toggie, toemaar, dink dit was Lance Klusener hulle wat ook al teen Zim verloor het. Dink in 1998 by die wereldbeker in UK. Ons kon nie Johnson uitkry nie, of so iets

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.