Novak is weer Laureus se topsportman

Novak Djokovic spog met sy toekenning in Madrid. (Foto: Javier Soriano/AFP)

Novak Djokovic se ster het die helderste by die Laureus-sporttoekennings geskyn. Die 36-jarige tennisspeler is Maandag as die sportman van die jaar by die glansgeleentheid in Madrid aangewys.

Dit is die vyfde keer dat Djokovic met dié toekenning in sy roemryke loopbaan wegstap.

“Dit is ʼn baie groot eer en ek dink vanaand veral terug aan 2012 toe ek vir die eerste keer as ʼn 24-jarige tennisspeler die toekenning in ontvangs geneem het. Ek is trots om 12 jaar later weer hier voor julle te staan, terwyl ek terugkyk op ʼn jaar wat vir baie hoogtepunte gesorg het,” het die Serwiër gesê.

Djokovic het in 2023 drie Grand Slam-titels ingeoes en hy was net op die grasbane van Wimbledon aan die verloorkant toe hy in ʼn titaniese eindstryd teen Carlos Alcaraz die onderspit gedelf het.

“Ek is geseënd om hier tussen van wêreldsport se grootste name as ʼn wenner te staan, maar terselfdertyd is ek ook ʼn groot ondersteuner van die Laureus-toekennings, want ek glo dat sport oor die vermoë beskik om ʼn verskil in die wêreld te maak.”

Die wenner van 24 Grand Slam-titels het boonop ʼn paar weke terug die oudste wêreldnommereenspeler nóg geword.

Die rekord het sedert 2018 agter Roger Federer se naam gestaan, maar Djokovic het op 36 jaar en 323 dae die tennissepter geswaai.

Hy is nou al vir meer as 420 weke die wêreld se voorste speler en ondanks ʼn paar spoedhobbels in die afgelope paar toernooie, lyk dit nie of hy van plan is om binnekort sy raket weg te bêre nie.

Die Serwiese ster het wel aangedui dat hy nie by die komende Madrid-ope sal afslaan nie.

“Ek sal ongelukkig nie deel van die tennisaksie in Madrid wees nie. Hopelik sal ek in Rome kan speel. Ek is vanjaar nog nie op my beste nie en hopelik sal ek betyds vir Roland-Garros weer op alle suiers vuur.”

Djokovic is die verdedigende Franse Ope-kampioen.

Die Springbokke is in die span die jaar-kategorie benoem, maar Spanje se vrouesokkerspan is as die wenner aangewys.

  • Laureus-toekenningswenners:

Sportman van die jaar: Novak Djokovic

Sportvrou van die jaar: Aitana Bonmatí (sokker)

Sportspan van die jaar: Spanje se vrouesokkerspan

Terugkeer van die jaar: Simone Biles (gimnastiek)

Deurbraakster van die jaar: Jude Bellingham (sokker)

Aksiesportster van die jaar: Arisa Trew (skaatsplankry)

Paraplegiese sportster van die jaar: Diede de Groot (rolstoeltennis)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

latie ·

hul haat springbok want die biltong nie lekker nie net die spanje bul is lekker …..?

Treurwilger ·

Skitterende prestasie deur Novak, een van die wêreld se mees talentvolle, langs presterende en aangenaamste sportpersoonlikhede.
Mag daar nog ‘n hele paar titels bygevoeg word.

George ·

@Treurwilger, hy sal nog baie wen, want hy het nie die kompitisie wat die goats Federed en Nadal gehad het nie.

Treurwilger ·

@George
Dit is een van dié mees onsinnige opmerkings ooit.
Djokovic wás júís die ander twee se grootste kompetisie.
Hy is voor in alle statistieke.
En die opkomende generasie is, net soos die vorige generasie teen wie Federer gespeel het, formidabele teenstanders, Alcaraz, Sinner etc.
Moenie jou naam met ‘n plank slaan bloot omdat jy ‘n fanatiese Federer-aanhanger is nie.

Bolandse Nooi ·

Ek is baie bly Kolisi en die “Springbokke” is dié jaar oor die hoof gesien. Mense, steur jul nie aan ou Georgie nie, hy moet alewig aweregs wees. Novak het verdien om Sportman van die Jaar te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.