Nuwe Premier-hokkieliga in die pylvak

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

Die eerste toernooi van die Premier-hokkieliga (PHL) bereik dié naweek sy hoogtepunt wanneer die uitspeelrondes en eindstryde by die Randburgse hokkiestadion afgehandel word.

Die nuwe liga, met sy unieke wyse van span kies, is vandeesmaand die eerste keer op die proef gestel en word deur spelers, toeskouers en beamptes as ʼn reusesukses beskou. Die land se voorste spelers in die mans- en vroueafdeling het buite hul gewone provinsiale spanverband gespeel en hokkie van hoogstaande gehalte gelewer.

Saterdag word daar vier halfeindronde-wedstryde deur die mans- en vrouespanne gespeel, en ook uitspeelwedstryde vir die vyfde en sesde plekke.

Die manspanne wat deurgedring het na die halfeindronde is die Garden Route Gazelles wat met 11 ligapunte bo-aan die puntelys geëindig het. Die Maropeng Cavemen was met nege punte tweede.

Kort op hulle hakke, ook met nege punte, was die Golden Gate Gladiators wat een doel meer deurgelaat het. Die Addo Elephants is die vierde manspan in die halfeind.

Die voorste doelskieter aan die einde van die rondomtalie is Ignasius Malgraff (Elephants) met sewe doele in vyf wedstryde.

As voorste span op die puntelys speel die Garden Route Gazelles dus teen die vierde geplaaste Addo Elephants en die Maropeng Cavemen teen die Golden Gate Gladiators.

♦ Wat die vrouespanne betref was die Madikwe Rangers met 15 punte bo-aan die puntelys, net twee punte voor die St Lucia Lakers. Die Blyde River Bunters, ook op 13 punte, het ʼn swakker doelverskil gehad. Hoewel Wineland Wings net een wedstryd gewen het, was hulle vierde.

St Lucia Lakers speel in die eerste vroue-halfeind Saterdag teen die Blyde River Bunters, en die Madikwe Rangers teen die Wineland Wins.

Kate Koenig (Lakers) en Sylvia van Jaarsveld (Rangers) se vier doele elk was die meeste in die vroueafdeling.

♦ Die twee eindstryde en die uitspeelwedstryde vir die derde en vierde plekke vind Sondag plaas. Die uitspeel vir vyfde en sesde plekke in die twee afdelings word Saterdag gespeel.

♦ Die Namaqualand Daisies, Suid-Afrika se o.21-span wat in November in Chili aan die Junior Wêreldbekertoernooi deelneem, het nog heelwat slypwerk om te doen. Hulle het al vyf hulle wedstryde in die vroueafdeling verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.