O, om ’n sporttoeskouer in Nieu-Seeland te wees

Foto: David Rowland/AFP . (

Terwyl toeskouers in die Covid-19-era nog taboe by Suid-Afrikaanse sportbyeenkomste is, word Australiërs en Nieu-Seelanders al vir maande by wedstryde toegelaat.

Amper 30 000 toeskouers was by die eindstryd van die Big Bash League in Sydney, terwyl reuseskares die Rugby League-kragmetings bywoon.

Gert Ferreira, ’n oudinwoner en ’n chiropraktisyn van Pretoria, woon deesdae saam met sy vrou in Nieu-Seeland en hulle het al ’n hele paar sporthoogtepunte vanuit hul pawiljoensitplekke dopgehou.

Daar was al die seiljagaksie van die Amerikasbeker (waar ’n vindingryke kameraman terstond gesorg het dat Ferreira sy televisiebuiging gemaak het), ’n internasionale kriekettoets teen Pakistan en verskeie rugbywedstryde.

Hulle beplan juis om die Springbokke en die All Blacks se tweestryd in Auckland by te woon.

Gert en Minette Ferreira by ’n Chiefs-wedstryd. Foto: Verskaf.

“Die krieketstadion was volgepak, daar was ongelooflik baie mense by die Amerikasbeker, terwyl daar tussen 12 000 en 15 000 mense ’n rugbywedstryd bywoon,” het Ferreira vir Maroela Media gesê.

Die Kiwi’s en Aussies is immers bekend vir hul flinke optredes in die onseker Covid-tye.

In Nieu-Seeland is daar ’n spesiale opsporings-app wat ’n mens op jou selfoon kan aflaai en wat jy gereeld moet skandeer wanneer jy ’n wedstryd sou bywoon. As daar moontlike positiewe gevalle sou wees, weet die plaaslike regering op dié manier dadelik wie om te kontak.

Die Ferreiras is deesdae ondersteuners van die Chiefs-rugbyspan, bloot omdat hulle in Hamilton woon. Hulle het selfs onlangs seisoenkaartjies bekom.

En – soos almal weet – is die Nieu-Seelanders mal daaroor om rugby te speel.

“Elke liewe klein dorpie waar ons al verby gery het, het sy eie rugbyklub. Elke keer wanneer ’n mens een van die parke in hier in Hamilton besoek, sien jy ouens wat besig is om raakrugby te speel.”

Saam met die All Blacks-ster, Anton Lienert-Brown. Foto: Verskaf

Volgens Ferreira word daar op ’n Saterdagoggend voor ’n belangrike kragmeting reeds van vroeg skoolwedstryde op TV uitgesaai en alles kom omtrent tot ’n stilstand.

Tog kan niks vir die atmosfeer van ’n wedstryd op Loftus Versfeld of op Ellispark kers vashou nie.

Die Ferreiras is steeds groot ondersteuners van die Springbokke, terwyl hulle nog kliphard vir die Bulls en die Lions skree.

“Ons het altyd so ʼn paar uur voor ’n Bulle-wedstryd bymekaargekom om eers naby jou kar in die parkeerarea te braai. Hier kom die ouens eers by ’n kroeg bymekaar en dan vyf minute voordat die wedstryd begin, daag hulle by die stadion op.”

En in Nieu-Seeland sal jy ook nie sommer hoor dat iemand met ’n spontane “olé-olé” sal wegtrek nie.

“Die toeskouers hier is baie rustig, hulle sal handeklap, maar dit is net nie soos in Suid-Afrika nie. Tog doen die stadionpersoneel hier in Hamilton baie moeite: ’n Plaaslike weergawe van die Haka-strydkreet word voor elke wedstryd uitgevoer en daar is gereeld vermaak tydens rustyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

NZ en Aus is net eenvoudig die toonbeeld van wet en orde en gevolge as jy dit nie nakom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.