Olimpiese Spele: Alle oë op die marathonatlete

Dorando Pietri van Italië is eerste oor die wenstreep tydens die Olimpiese Spele in 1908 in Londen Foto: Wikimedia Commons

Dorando Pietri van Italië is eerste oor die wenstreep tydens die Olimpiese Spele in 1908 in Londen Foto: Wikimedia Commons

Soos in Suid-Afrika gehoop en elders allerweë verwag is, het Caster Semenya toe vroeg Sondagoggend die gouemedalje in die 800 meter gewen en, soos in die uitdunne en die halfeind, tot hier op die einde gewag en weer gemaklik gewen.

Haar tyd van 1:55.28 is ʼn nuwe SA rekord en die gouemedalje was Suid-Afrika se tweede nadat Wayde van Niekerk dit met ʼn nuwe wêreldrekord in die 400 meter reggekry het.

Elroy Gelant het so goed in die 5 000 m gevaar as wat verwag kan word en 11de geëindig met die grote Mo Farrah wat maklik gewen het.

In die driekamp vir vroue het Mari Rabie in ʼn baie verdienstelike 11de plek (1:59.13) behaal, net drie minute na die wenner in die strawwe item waar fietsry, swem en hardloop die drie dissiplines is. Gillian Sanders was 23ste.

Paula Reto (280 houe, 16de plek) en Ashleigh Simon (296, 50ste plek) was eintlik na die tweede ronde nie meer in die prentjie in die vrouegholf nie.

Kan een van Suid-Afrika se drie marathonatlete Sondag die geskiedenis herhaal wanneer hulle vir een van die laaste items op vanjaar se Olimpiese Spele aantree?

Draai die horlosie terug na 1908 in Londen toe die Suid-Afrikaner Charles Hefferon voorgeloop het met net 3 km oor, maar ʼn glas sjampanje saam met een van die ondersteuners langs die pad geniet het. Hy het dit onder luide toejuiging afgesluk en verder gehardloop. Dorando Pietri (Italië) en Johnny Hayes van Amerika het hom egter ‘n paar meter verder verbygesteek toe hy krampe begin kry het weens die alkohol. Pietri het eerste geëindig, Hayes tweede en Hefferon derde. Die Italianer is egter gediskwalifiseer nadat hy naby die wenpaal deur beamptes opgehelp moes word en ondersteun is nadat hy geval het. Die gouemedalje is toe aan Hayes toegeken met Hefferon wat die silwermedalje ontvang het.

Dit was ʼn goue jaar in 1912 op die Spele in Stockholm toe die Suid-Afrikaners Kenneth McArthur die gouemedalje gewen het en Chris Gitsham silwer.

In 1996 in Atlanta het die Suid-Afrikaner Josia Tugwane die atletiekwêreld geskud toe hy uit die bloute die gouemedalje verower het nadat hy net drie sekondes voor Lee Bong-Ju van Suid-Korea oor die eindstreep gedraf het.

Kan Suid-Afrika se Lusapho April, Sibusiso Nzima en Lungile Gongqa dit Sondag van 14:30 af weer regkry?

Die gunsteling is Kenia se Eliad Kipchoge, wat brons in die 5 000 m in 2004 in Athene en weer in 2008 in Beijing gewen het. Hy toe na die marathon oorgeskakel. Sy grootste teenstanders is sy landgenoot Stanley Biwott, Ghirmay Ghebrealassie van Eritrea en Stephen Kiprotich van Uganda, wat die gouemedalje in 2012 in Londen verower het.

Hou hulle Sondag dop:
Marathon vir mans:
14:30: Lusapho April, Sibusiso Nzima en Lungile Mongqa
Bergfietsry vir mans:
17:30: Alan Hatherly, James Reid
Afsluitingseremonie:
01:00 (Maandagoggend)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E.K. ·

Dit het toe (hik!) nie gebeur nie maar as mens na die marathon kyk en sien hoe swaar die ouens kry – welgedaan aan elke een wat klaargemaak het maak nie saak hoeveelste nie! Interessante storie, dankie Maroela!

Kiepie ·

Mari Rabie het 3 minute na die wenner klaar gemaak in die driekamp en nie 3 sekondes soos genoem nie. Nie te min ‘n baie goeie prestasie.

Landi Slatter ·

Dagsê Kiepie

Dankie vir jou navraag. Dit is inderdaad 3 minute, jammer vir die flater! Ons wysig die berig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.