Olimpiese Spele: Banyana verloor; Amaglug-glug vol hoop

Banyana Banyana tydens 'n oefensessie. Foto: Twitter

Banyana Banyana tydens ‘n oefensessie. Foto: Twitter

Die Suid-Afrikaanse vrouesokkerspan, Banyana Banyana, is Woensdagaand in die Olimpiese stadion in Rio de Janeiro 1-0 deur Swede in die eerste wedstryd by vanjaar se Olimpiese Spele geklop.

Banyana Banyana se afrigter, Vera Pauw, is egter geensins op moedverloor se vlakte nie.

Vier jaar gelede het Swede Suid-Afrika 4-1 by die Spele in Londen geklop en hoewel daar 46 plekke tussen die twee spanne op Fifa se jongste wêreldranglys is, sê Pauw die gaping is aan’t krimp.

Banyana Banyana (51ste op die ranglys) ding saam met Swede (6de), Brasilië (8ste) en China (12de) in Groep E mee en sal sukkel om verder as die uitspeelrondes te vorder, nadat Brasilië vir China Woensdagaand 3-0 geklop het.

Suid-Afrika speel Sondag teen China en moet wen om lewe in hul kanse te blaas.

“Ek vergelyk nie 2012 met 2016 nie,” het Pauw op Saskok se webwerf gesê. “Die verbetering wat ons toon, gee ons ʼn baie goeie kans om gunstige uitslae teen spanne te kry wat hoër as ons op die wêreldranglys is. As jy kyk van waar ons vandaan kom en waar ons nou is, is ek seker dat jy die verstommende vordering en groei sal sien. Hierdie uitslag wys ons kruip al nader,” het Pauw gesê.

Swede, met ses spelers in sy beginspan wat langer as 1,75 m is (Banyana het net een, die doelwagter, Roxanne Baxter), het die wendoel in die 75ste minuut deur Nilla Fischer behaal ná ʼn geskarrel in Banyana se doelhok.

Banyana se kaptein, Janine van Wyk, het ook haar tevredenheid uitgespreek. “Ek is baie tevrede en trots op die span,” het sy gesê.

Suid-Afrika se manspan, die Amaglug-glug, speel Donderdagaand (afskop 21:00) in die Mane Garrichha-stadion teen die gasheer Brasilië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.