Olimpiese Spele: Dis Caster se goue, voorspel die kenners

Caster Semenya. Foto: AP Photo/Anja Niedringhaus, File

Caster Semenya. Foto: AP Photo/Anja Niedringhaus, File

Diegene wat weet, sê dis ʼn gegewe dat Caster Semenya ʼn goue medalje op vanjaar se Olimpiese Spele sal wen.

Die omstrede Semenya begin haar aanslag in die 800 m vir vroue wanneer sy Woensdagmiddag in die uitdunne van die 800 m aantree. Semenya het die afgelope paar maande nie haar gelyke gehad nie en sy het kat en muis met haar teenstanders op verskeie internasionale byeenkomste gespeel.

Sy sou aanvanklik ook aan die 400 m deelgeneem het, maar sy en haar afrigter, Jean Verster, het voor die Spele besluit om haar te onttrek om net op die 800 m te fokus.

Dinsdag was nóg ʼn medaljelose dag nadat nie een van Suid-Afrika se drie 200 m-atlete, LJ van Zyl en Wenda Nel in die 400 m-hekkies, Antonio Alkana in die 100 m-hekkies en Chad Ho in die 10 km-oopwaterswem kon kwalifiseer of ʼn medalje wen nie.

Ho het tiende geëindig in die oopwaterswem in ʼn tyd van 1:53:04, net vyf sekondes agter die wenner, Ferry Weertman van Nederland. Ho was saam met sowat 15 ander swemmers in ʼn hewige stryd gewikkel en die beoordelaars moes van fotobeslissings gebruik maak om die deelnemers te skei. Ho was net 2,8 sekondes buite bereik van ʼn bronsmedalje, ná byna twee uur in die see.

Sunnette Viljoen (63,54 m) het net een gooi in die uitdunne van die spiesgooi vir vroue gegee, die vereiste kwalifiserende afstand behaal en toe gaan uitrus vir Vrydagoggend se eindstryd.

Ná die middelmatige vertonings van Jaco van Zyl en Brandon Stone in die mansgholftoernooi, slaan Ashleigh Simon en Paula Reto Woensdag in die vrouetoernooi af.

Hou dié Suid-Afrikaners Woensdag dop:

Gholf: 15:52: Vroue: Eerste ronde van houespeltoernooi: Ashleigh Simon en Paula Reto.

Atletiek: 14:28: Mans: Tienkamp: Uitdunne: Willem Coertzen

13:30: Mans: Spiesgooi: Uitdunne:  Rocco van Rooyen

13:37: Mans: 5 000 m: Uitdunne: Elroy Gelant

16:02: Vroue: 800 m: Uitdunne: Caster Semenya

19:34: Fietsry: BMX vir mans: Kyle Dodd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ruby ·

Van die hele Olimpiese Spele is my hoogtepunt om Caster in aksie te sien.

Die gimnastiek was ook werklik baie goed.

Mariette Hammann ·

Niks is gegewe nie, maar ons hou duim vas vir Caster!! Baie sterkte ook aan haar afrigter, Jean Verster!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.