Van Niekerk het vroeg Maandagoggend die sportwêreld laat gons ná sy nuwe wêreldrekord in die eindronde van die 400 m vir mans toe hy die legendariese Michael Johnson se rekord, wat reeds in 1999 opgestel is, verpletter het. Die nuwe rekordtyd is 43,03 sek.
Van Niekerk se prestasie het selfs die glans verdof van Usain Bolt se derde titeloorwinning in die 100 m vir mans wat net ná Van Niekerk se wedloop gehardloop is en beloof om een van dié prestasies van die Spele te wees.
Ná die silwermedalje van Luvo Manyonga in die verspring vir mans en Van Niekerk se goue medalje in die 400 m, spog Suid-Afrika nou met sewe medaljes (een goud, vyf silwer en een brons).
Die kollig verskuif later Maandag na die uitdunrondes van die 200 m vir vroue, 400 m-hekkies vir mans en vroue, driesprong en 100 m-hekkies vir mans.
Bridgitte Hartley begin ook haar aanslag in die kanovaart. Sy was een van die atlete op wie daar vooraf hoop gevestig is vir ʼn medalje. Hou haar gerus dop.
Lys van Suid-Afrikaners Maandag in aksie:
Atletiek: Uitdunrondes: 14:35: Vroue: 200 m: Alyssa Conley, Justine Palframan
Mans: 400 m-hekkies: 16:56: Le Roux Hamman. 17:03: Lindsey Hanekom. 17:10: LJ van Zyl
100 m-hekkies: 01:56 (Dinsdag): Antonio Alkana
Vroue 400 m-hekkies: 02:54: Wenda Nel
Driesprong: 14:30: Godfrey Mokoena
Kanovaart: Uitdunrondes: Vroue oor 1 000 m: 15:59: Bridgitte Hartley
Oopwaterswem: 14:00: Vroue 10 km: Michelle Weber
Seiljag: 470-klas: Asanathi Jim en Roger Hudson