Olimpiese Spele: Murray kan medalje in driekamp wen

Richard Murray. Foto:  Lukas Schulze/dpa via AP

Richard Murray. Foto: Lukas Schulze/dpa via AP

Met net vier dae oor voordat die Olimpiese Spele Sondag ten einde loop, het Suid-Afrika nog net drie werklike aanspraakmakers op medaljes oor.

Woensdag het die drome van die kanovaarder, Bridgitte Hartley (500 m-snelroei), en die atlete, Rocco van Rooyen (spiesgooi) en Willem Coertzen (tienkamp), geëindig.

Caster Semenya het Woensdag die tweede uitdunronde van die 800 m vir vroue in 1:59.31 gewen en bly een van die groot gunstelinge. Sy neem vroeg Vrydagoggend (SA tyd) aan die halfeindronde deel en kan haar plek in die eindstryd bespreek. In die spiesgooi vir vroue kan Sunette Viljoen ook vroeg  Vrydagoggend in die eindronde haar stempel afdruk.

Daar  is groot verwagtinge van Richard Murray en Henri Schoeman in die driekamp. Murray, die huidige Wêreldbekerkampioen, het ʼn paar weke gelede geval en sy sleutelbeen gebreek, maar dit lyk of die ruskans hom goed gedoen het. As hy by die voorlopers in die 1 500 m-swem kan hou, kan hy in die fietsry (43 km) en hardloop (10 km) die ander 54 atlete uitstof. Schoeman se broer, Riaan, het in 2010 in Delhi ʼn bronsmedalje in swem op die Statebondspele gewen en is sy oefenmaat.

Die vroue-gholfspelers, Ashleigh Simon (75) en Paula Reto (74), slaan Donderdag in die tweede ronde van die vroue-gholftoernooi af en sal sukkel om die voorlopers, Ariya Jutanugarn van Thailand (65) en die twee Koreane Inbee Park en Kim Sei-young (albei 66), in te haal.

Hou gerus die driekampers dop, hulle is atlete van staal en medaljepotensiaal.

Suid-Afrikaners Donderdag in aksie:

Atletiek: 02:31 (Vrydag): 800 m vir vroue: Halfeindronde: Caster Semenya

02:10 (Vrydag): Spiesgooi vir vroue: Eindronde: Sunette Viljoen (moontlik)

Driekamp: 16:00: Richard Murray en Henri Schoeman

BMX:18:30: Kwarteindronde: Kyle Dodd

Gholf: 12:52: Tweede ronde van vroue-gholftoernooi: Ashleigh Simon en Paula Reto

Kanovaart:15:04:  B-eindronde van 500 m: Bridgitte Hartley

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alle duime word vasgehou ·

Aan julle almal wat nog moet deelneem, daar is nog altyd die kans, gaan voluit, fokus op wat jy geoefen het en jou beste! Die res kom vanself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.