Olimpiese Spele: SA het vier medaljes; goud wink

Die Blitsbokke met hul bronsmedaljes. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Die Blitsbokke met hul bronsmedaljes. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

ʼn Goue medalje ontwyk steeds die Suid-Afrikaanse span op vanjaar se Olimpiese Spele in Rio.

Die Spele nader die halfpadmerk en Suid-Afrika se medalje-oes staan op vier:  drie silwer en een brons.

Die Blitsbokke het Donderdagaand ʼn bronsmedalje verower toe hulle Japan met 54-14  getroef het. Die Blitsbokke is egter deur Brittanje in die halfeindronde geklop.

Vroeër in die dag het die roeiers Lawrence Brittain en Shaun Keeling ʼn silwermedalje in die 2 000 m vir pare ingeoes.

Die SA roeiers neem Vrydag in vier eindrondes deel en kan ʼn medalje of twee, selfs goue medaljes, by die versameling voeg.

Die fokuspunt verskuif ook na die atletiekbaan wanneer die eerste uitdunne en een of twee eindrondes Vrydagaandaand en vroeg Saterdagoggend afgehandel word.

Wayde van Niekerk begin sy aanslag Saterdagoggend om 02:21 in die 400 m in die vyfde uitdun. Vrydagmiddag is Rynhardt van Rensburg en Jacob Rozani in die uitdunne van die 800 m in aksie en hulle word gevolg deur Dominique Scott-Efurd in die uitdunne van die 10 000 m vir vroue. Dié atleet van Kaapstad studeer in die VSA en dit is waar sy gekwalifiseer het.

Lebogang Shange en Wayne Snyman is in die 20 km-stap in aksie en drie verspringers, Ruswahl Samaai, Stefan Brits en Luvo Manyanga neem in Groep A van die uitdunne deel. Vroeg Saterdagoggend spring  Alyssa Conley en Carina Horn in die uitdunne van die 100 m vir vroue weg.

♦  Dit het nie so goed gegaan met Jaco van Zyl (71) en Brandon Stone (75) in die eerste ronde van die gholftoernooi nie en hopelik sal hulle die voorlopers in Vrydag se tweede ronde kan inkatrol.

Hou dié Suid-Afrikaners Vrydag dop:

Atletiek:

15:46: Mans: 800 m: Uitdunne: Rynhardt van Rensburg en Jacob Rozani

16:10: Vroue: 10 000 m: Uitdunne: Dominique Scott-Efurd

19:30: Mans: 20 km-stap: Lebogang Shange en Wayne Snyman

02:20: Mans  Verspring: Uitdunne: Luvo Manyanga, Ruswahl Samaai en Stefan Brits

02:21: Mans: 400: Uitdunne: Wayde van Niekerk

03:40: Vroue: 100: Uitdunne: Alyssa Conley en Carina Horn

Gholf: tweede ronde van houespeltoernooi: Jaco van Zyl en Brandon Stone

Roei:

15:32: Vroue: Eindrondes: liggewig-skulroei: Kirsten McCann en Ursula Grobler

15:44: Mans: Liggewig-skulroei: James Thompson en John Smith

16:04: Vroue: Pare: Lee-Anne Persse en Kate Christowitz

16:24: Mans: Viere: David Hunt, Jonathan Smith, Vincent Breet en Jake Green

Seiljag:

Mans: Laser-klas: Stefano Marcia, Asenathi Jim en Roger Hudson

Swem: Mans: 1 500: Uitdunne: Matthew Meyer

Mans: 4 x 100-vryslag: Uitdunne: SA span nog nie aangekondig

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E.K. ·

Sewes het bietjie drooggemaak en kanse verspeel, maar nogtans geluk met jul brons. Weereens geluk aan almal en veral aan Lawrence Brittain en Shaun Keeling – Lawrence het limfoonkanker oorwin so onlangs as 18 mde gelede – hy is ‘n GROOT inspirasie! Ons wag nou vir daai goue een ouens! Sterkte aan al ons atlete!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.