Olimpiese Spele: SA’ners vandag in aksie

Foto: AP Photo/Patrick Semansky

Foto: AP Photo/Patrick Semansky

Suid-Afrika se mikpunt is tien medaljes op vanjaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro en die eerste sooi kan reeds vanmiddag gespit word wanneer Louis Meintjes en Daryl Impey Suid-Afrika se aanslag in die fietspadren oor 253 km lei.

Meintjes het ʼn paar weke gelede in die Tour de France die beste vertoning nóg deur ʼn Suid-Afrikaner gelewer toe hy algeheel agtste geëindig het. Maar, net soos al die ander spanne, het hy van die wêreld se beste jaers as spanmaats om hom gehad.

Hulle het hom soos ʼn broeishen opgepas, gesorg dat hy in die bondel bly en op die regte tyd sy kanse kry. Nou is dit net hy en Impey teen ʼn Britse span van vyf lede wat bestaan uit Chris Froome, Adam Yates, Steve Cummins, Geraint Thomas en Ian Stannard.

Dan is daar ook nog Australië se Richie Porte, Tony Martin van Duitsland, Dan Martin van Ierland, Alejandro Valverde van Spanje, die Italianer Vincenzo Nibali, Wout Poels en Tom Dumoulin van België en Rafal Majka van Pole.

♦  Die Suid-Afrikaanse swemspan sal ook in die eerste uitdunne wys waartoe hulle in staat is. Soos gewoonlik is Cameron van der Burgh in die kollig, maar die vertonings van Michael Meyer, Sebastien Rousseau en Myles Brown sal ook fyn dopgehou word.

Die Suid-Afrikaanse vrouesokkerspan kom van middernag af teen China in sy tweede wedstryd te staan, terwyl die roeiers ook begin regskuif.

Lys van die Suid-Afrikaanse deelnemers wat vandag (SA tyd) in aksie is:

14:30: Fietsry: padren oor 253 km (Louis Meintjes en Daryl Impey)

15:30: Gimnastiek: Ryan Patterson

15:30: Roei: Manspare: Lawrence Brittain en Shaun Keeling

18:14: Swemuitdunne: Mans 400- individuele wisselslag (Michael Meyer)

18:20: Mans 400- individuele wisselslag (Sebastien Rousseau)

19:12: Mans 400-vryslag (Myles Brown)

20:16: Mans: 100-borsslag: Cameron van der Burgh

24:00: Vrouesokker: Banyana Banyana teen China

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.