Olimpiese Spele se eerste skote klap Woensdag

Argieffoto (theweek.com)

Argieffoto (theweek.com)

Die Rio Olimpiese Spele begin reeds Woensdag wanneer die eerste sokkerwedstryde vir vroue gespeel word, twee dae voor die amptelike opening op Vrydag 5 Augustus.

Die sokker, vir mans én vroue, se wedstryde word in ses verskillende stadia gespeel. Die uitspeelwedstryde om die drie medaljes vir albei is eers op 19 Augustus – twee dae voordat die Spele op 21 Augustus met die laaste agt sportsoorte se finale rondes en die uiteindelike sluitingsfunksie ten einde loop.

Suid-Afrika is in albei sokkerkompetisies verteenwoordig.

Saterdag kry Suid-Afrika reeds sy eerste medalje-geleenthede. Die swemmers, van wie baie verwag word, en die eerste roeinommers begin dan. Die perdry vind tussen 6 en 19 Augustus plaas waar vier medaljes gewen kan word. Die judo begin ook op 6 Augustus.

Die twee nuwe sportsoorte waarby Suid-Afrika belang het, sewesrugby en gholf, word onderskeidelik Dinsdag 9 Augustus en Donderdag 11 Augustus gespeel.

♦  Meer as 10 000 sportmanne en -vroue sal tot 21 Augustus die gesogte medaljes by die Spele probeer inoes. Verreweg die oorgrote meerderheid het natuurlik geen kans op sukses nie, maar daar kan tog uitgesien word na talle uitmuntende vertonings in die 42 sportsoorte. Daar sal 306 medaljes op die spel wees,

♦ Die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee (Saskok) verskaf groot finansiële geelwortels vir die land se deelnemers.

ʼn Goue medalje sal vir ʼn individuele atleet R500 000 in die sak bring; ʼn silwer sal R250 000 verdien en ʼn brons R100 000. Die sportmanne se bestuurders sal in elke geval 20% van hierdie prysgeld ontvang.

Wat betref spansport en aflos, geld presies dieselfde aansporingsbedrae. Dit beteken dus dat die R500 000 vir ʼn goue medalje byvoorbeeld deur die hele span, hetsy dit sokker, sewesrugby, swem- en atletiekaflositems is, gedeel sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.