Olimpiese Spele: Só naby, só ver vir Manyonga

Luvo Manyonga het 'n silwermedalje by die 2016 Olimpiese Spele in Rio verower. Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko

Luvo Manyonga het ‘n silwermedalje by die 2016 Olimpiese Spele in Rio verower. Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko

Luvo wie?

Toe Suid-Afrikaners Saterdagaand gaan slaap het, het baie min mense geweet wie Luvo Manyonga is, maar nadat hy vroeg Sondagoggend byna die land se eerste goue medalje in die verspring op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gewen het, sal hy op almal se lippe wees.

Manyonga (met ʼn sprong van 8,38 m) was tot en met sy laaste sprong voor, maar die Amerikaner Jeff Henderson (8,39 m) het met sy laaste sprong die goue medalje uit Manyonga se greep geruk. Manyonga het goud op die Wêreldkampioenskap vir juniors in 2010 gewen, maar was 18 maande geskors nadat hy in 2012 positief getoets is vir die gebruik van tik. Boonop is sy afrigter by Maties, Mario Smith, in 2014 in ʼn motorongeluk oorlede. Maar ondanks die twee groot terugslae het hy Suid-Afrika se sesde medalje by die Rio Spele (vyf silwer en een brons) gewen.

Suid-Afrikaners is Sondag in net drie sportsoorte in aksie. Die marathon vir vroue begin om 14:30 waaraan Christine Kalmer en Lebo Phalula deelneem nadat Irvette van Zyl (die hekkiesloper LJ van Zyl se vrou) haar onttrek het.

Suid-Afrika se hoop op ʼn goue medalje is steeds op Wayde van Niekerk gevestig wat Maandagoggend (03:25) sy aanslag in die 400 m vir mans maak. Akani Simbine hardloop in die halfeindronde van die 100 m teen ysters soos Usain Bolt en Justin Gatlan.

Jaco van Zyl en Brandon Stone slaan in die vierde en laaste ronde van die houespel-gholftoernooi af en in seiljag neem Asenathi Jim en Roger Hudson aan die 470-klas deel.

Hou dié Suid-Afrikaners Sondag dop:

Atletiek: 14:30: Marathon vir vroue: Christine Kalmer en Lebo Phalula

02:00 (Maandag): Halfeindronde: Mans 200: Akani Simbine

Eindronde:  03:25

03:00 (Maandag): Eindronde van 400 m: Wayde van Niekerk

Gholf: 12:00: Laaste ronde van houespeltoernooi:  Jaco van Zyl (215) en Brandon Stone (218)

Seiljag: 21:40: 470-klas: Asanathi Jimi en Roger Hudson

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.