Toe Suid-Afrikaners Saterdagaand gaan slaap het, het baie min mense geweet wie Luvo Manyonga is, maar nadat hy vroeg Sondagoggend byna die land se eerste goue medalje in die verspring op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gewen het, sal hy op almal se lippe wees.
Manyonga (met ʼn sprong van 8,38 m) was tot en met sy laaste sprong voor, maar die Amerikaner Jeff Henderson (8,39 m) het met sy laaste sprong die goue medalje uit Manyonga se greep geruk. Manyonga het goud op die Wêreldkampioenskap vir juniors in 2010 gewen, maar was 18 maande geskors nadat hy in 2012 positief getoets is vir die gebruik van tik. Boonop is sy afrigter by Maties, Mario Smith, in 2014 in ʼn motorongeluk oorlede. Maar ondanks die twee groot terugslae het hy Suid-Afrika se sesde medalje by die Rio Spele (vyf silwer en een brons) gewen.
Suid-Afrikaners is Sondag in net drie sportsoorte in aksie. Die marathon vir vroue begin om 14:30 waaraan Christine Kalmer en Lebo Phalula deelneem nadat Irvette van Zyl (die hekkiesloper LJ van Zyl se vrou) haar onttrek het.
Suid-Afrika se hoop op ʼn goue medalje is steeds op Wayde van Niekerk gevestig wat Maandagoggend (03:25) sy aanslag in die 400 m vir mans maak. Akani Simbine hardloop in die halfeindronde van die 100 m teen ysters soos Usain Bolt en Justin Gatlan.
Jaco van Zyl en Brandon Stone slaan in die vierde en laaste ronde van die houespel-gholftoernooi af en in seiljag neem Asenathi Jim en Roger Hudson aan die 470-klas deel.
Hou dié Suid-Afrikaners Sondag dop:
Atletiek: 14:30: Marathon vir vroue: Christine Kalmer en Lebo Phalula
02:00 (Maandag): Halfeindronde: Mans 200: Akani Simbine
Eindronde: 03:25
03:00 (Maandag): Eindronde van 400 m: Wayde van Niekerk
Gholf: 12:00: Laaste ronde van houespeltoernooi: Jaco van Zyl (215) en Brandon Stone (218)
Seiljag: 21:40: 470-klas: Asanathi Jimi en Roger Hudson
Die man se van is Gatlin, nie Gatlan nie.