Olimpiese Spele: Ys gebreek – so lyk Maandag se program

Foto: Xinhua/Ding Xu

Foto: Xinhua/Ding Xu

Die ys is gebreek! Cameron van der Burgh het vroegoggend Maandag Suid-Afrika se eerste medalje op vanjaar se Olimpiese Spele in die 100m-borsslag verower.

Van der Burgh het die afstand in 58:69 sekondes afgelê (sy beste tyd nog), maar dit was nie goed genoeg om die Brit, Adam Peaty, van die goue medalje te weerhou nie. Die Amerikaner Cody Miller was derde. Peaty se wentyd van 57:13 sekondes is ʼn nuwe wêreldrekord.

“Silwer is ʼn gawe kleur en ek is supertrots daarop om dit by my versameling te voeg. Mense onthou jou nie vir die wêreldrekord wat jy laat spat nie. Hulle onthou jou vir die medaljes wat jy gewen het,” het Van der Burg aan Saskok se Olimpiese webwerf gesê.

ʼn Rukkie vroeër het Chad le Clos tot die eindronde van die 200m-vryslag (dis nie sy gunsteling-item nie) deurgedring, toe hy die sewende vinnigste tyd in die halfeindronde opgestel het.

Wat teen Le Clos tel, is dat die eindronde van die vryslagitem en die halfeindronde van die 200m-vlinderslag (een van sy gunstelinge) vroeg Dinsdagoggend net ʼn halfuur ná mekaar plaasvind.

Ashley Moolman-Pasio het tiende geëindig in die padfietsren vir vroue, die beste nog deur ʼn Suid-Afrikaner. Die ren is deur die Nederlander Anna van der Breggen gewen (3 uur, 51 minute en 27 sekondes) met Emma Johansson van Swede tweede en Elissa Longo Borghini van Italië derde.

In die manssokkerafdeling, het Denemarke die Amaglug-glug met 1-0 geklop. Die SA span se kanse om deur te dring na die volgende ronde hang aan ʼn draadjie nadat Irak (sy laaste teenstander) en Brasilië met 0-0 gelykop gespeel het. Die roei-items is gister weens die sterk wind en onstuimige water uitgestel.

Suid-Afrikaners Maandag in aksie

Roei:

16:30: Vroue: Liggewig-skulroei vir pare: (Kirsten McCann en Ursula Grobler)

17:20: Mans: Liggewig-skulroei vir pare (James Thomson en John Smith)

17:40:  Vroue-pare: Lee-Anne Persse en Kate Christowitz)

18:20: Mans-viere (David Hunt, Jonathan Smith, Vincent Bree ten Jake Green)

Swem:

18:39: Mans: Uitdunne: 200m-vlinderslag (Chad le Clos)

18:49: Uitdunne: 200m-vlinderslag (Sebastien Rousseau)

03:21: Mans: Eindronde: 200m-vryslag (Le Clos, Myles Brown)

04:10: Mans: Halfeindronde: 200m-vlinderslag (Le Clos)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.