Olivier en De Kock verneder Pakistan

Duanne Olivier is as die speler van die reeks aangewys. Foto: Sporting News.

Nóg ’n toets, nóg ’n oorwinning in die omgewing van middagete op dag vier.

Dié tendens het alte gereeld vir Pakistan in die afgelope toetsreeks plaasgevind met hul kolwers wat gereeld moes bontstaan vir die Protea-boulaanval.

Die Proteas het vanoggend korte mette met die besoekers gemaak om die derde en finale toets met 107 lopies op die Wanderers te wen.

Die besoekers het hul tweede beurt op 153/3 hervat met Ashad Shafiq en Babar Azam voor die paaltjies.

Duanne Olivier was egter deur die reeks ’n doring in die Pakistani’s se vlees en hy het met ’n onspeelbare opslagbal van Azam (21) ontslae geraak en met die daaropvolgende aflewering vir Sarfraz Ahmed skoongeboul.

Hy het uiteindelik 24 paaltjies in die drie toetse verwerf.
Kagiso Rabada het daarna met die stertkantkolwers klaargespeel en net Shafiq (65) kon enigsins met ’n aanvallende beurt wal gooi.

Pakistan is uiteindelik vir 273 uitgehaal en die Proteas wen die toetsreeks 3-0.

Quinton de Kock het sy eerste toetshonderdtal in amper twee jaar geslaan. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Quinton de Kock is vir sy honderdtal in Suid-Afrika se tweede beurt as die speler van die wedstryd aangewys, terwyl Olivier welverdiend die speler van die reeks is.

Suid-Afrika se toppresteerders:

Kolwers:
1. Quinton de Kock: 251 lopies teen ’n gemiddeld van 62.75
2. Hashim Amla: 209 lopies teen ’n gemiddeld van 52.25
3. Temba Bavuma: 172 lopies teen ’n gemiddeld van 43.00
4. Aiden Markram: 201 lopies teen ’n gemiddeld van 40.20

Boulers:
1. Duanne Olivier: 24 paaltjies teen ’n gemiddeld van 14.70
2. Kagiso Rabada: 17 paaltjies teen ’n gemiddeld van 18.70
(Dale Steyn het gedurende die reeks Shaun Pollock se rekord vebeter deur die Suid-Afrikaner te word met die meeste paaltjies agter sy naam. Hy het uiteindelik 12 paaltjies geneem teen ’n gemiddeld van 29.00.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Lekker om die Proteas aan die wenkant te sien.Jammer dat sommige kolwers nog nie aan alle verwagtinge voldoen nie en die boulers soms sukkel om van die laë rorde kolwers ontslae te raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.