Ons mis die kinders baie, sê skoolafrigters

Ter illustrasie. Foto: GB Jordaan.

Kinders is by die huis en skoolsport is taboe in die Covid-19-era, terwyl talle nasionale weke (waaronder hokkie en rugby) vanjaar in die slag gebly het.

Maroela Media het by afrigters van laerskool- en hoërskoolspanne in dié onsekere tye gaan aanklop. En nes die kinders sien hulle ook uit na die dag wanneer daar weer na hartelus getêkkel, gedoel en gehardloop kan word; maar hulle almal is dit tog eens: Daar ís hoop.

  • Cobus van Dyk (adjunkhoof van sport by Hoërskool Waterkloof, een van die eersterugbyspan-afrigters en die voorspeler-afrigter van die SA Skole-span):

“Ek mis die persoonlike verhouding wat mens met elke seun opgebou het die heel meeste,” het Van Dyk vanoggend aan Maroela Media gesê.

“Jy leer naderhand elke karakter ken – jy weet met wie jy kan grappies maak, met wie jy kan stoei en wie deur jou woorde bemoedig word. Elke seun is uniek en jy moet elkeen op ’n unieke manier hanteer.”

Van Dyk, agter heel regs, saam met die SA Skole-groep.

Volgens Van Dyk kan die afsonderingstydperk met ’n wedstryd vergelyk word: Soms is jy voor op die telbord en ander kere nie; partykeer hardloop jy met momentum en ander kere moet jy wal gooi.

“Iewers in die ‘wedstryd’ gaan dit moeiliker en dan moet jy op jou spanmaats se ondersteuning staatmaak om die wa deur die drif te trek. Elke leerling moet ook nou op sy ondersteuningsnetwerk kan staatmaak. Sport het baie meer waarde van die veld af as op die veld.

“Lewe in geloof, ons matrieks en kinders. Hou aan werk, hou aan glo en hou aan lewe.”

  • Luzanne Gresse (afrigter van Midstream Ridge Laerskool se o. 12A-netbalspan):

Luzanne Gresse (voor, heel regs) saam met lede van die o.12-groep. Foto: Verskaf.

“Ek verlang die meeste na die kinders – hul geselsies, hul deursettingsvermoë om nuwe spelpatrone te bemeester en die trots wat mens voel wanneer jy die kleintjies op die baan sien groei,” het sy gesê.

Volgens Gresse geniet sy dit die meeste om jaarliks ’n pad saam met elke span te stap.

“Ek is mal daaroor om ’n klomp nuwe meisies bymekaar te sit en te sien hoe hulle aan die einde van die seisoen as ’n span wegstap; hoe ons elke keer wanneer ons speel ’n meer hegte eenheid is.

“Juffrou mis julle en moet asseblief nie ophou oefen nie. Gooi sommer enige bal teen die muur – net nie ’n rugbybal nie (!) – en geniet dit,” het sy in ’n spesiale boodskap vir haar span gesê.

  • Jaco Koch (afrigter van Affies se eerste- en tweederugbyspan):

“Ek mis die glimlagte op die seuns se gesigte, die trots wanneer hulle Affies verteenwoordig en hoe ons almal saamwerk om een doel te bereik,” het Koch aan Maroela Media gesê.

Jaco Koch is die afrigter van Affies se eerste- en tweederugbyspanne. Foto: Verskaf.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar en dit sou die rugbyseisoen nog meer spesiaal gemaak het.

“Ons het al verlede jaar tydens die af-seisoen ervaar dat hierdie seuns op ’n spesiale missie is om die skool trots te maak en ons het dit sommer in die eerste twee wedstryde van die seisoen al beleef. Ons is dalk naïef, maar die lekkerste van die seisoen sal nou wees om die manne weer te sien uitdraf om hul skool te verteenwoordig; om die glimlagte op hul gesigte en die passie wat hulle uitleef eerstehands te ervaar.

“Gebruik die afsonderingstydperk om te groei in ander aspekte van jou lewe; leer meer van jouself as mens en sorg dat jou akademiese vordering optimaal plaasvind. Dit is alles in jou eie hande en dit maak hierdie uitdagende tyd net soveel meer opwindend.”

  • Hanlie Putter (afrigter van Laerskool Louis Leipoldt se mini-netbalspanne):

“Vasbyt! Gooi intussen balle teen die muur, spring met jou tou en maak jou ouers mal totdat hulle saam met jou gooi en vang,” het die Louis Leipoldt-juffrou gesê.

“Op die netbalbaan is ek mal oor die kleintjies. Dit is ons laaste jaar by mini-netbal waar hulle sommer al die posisies moet speel en hier maak wen of verloor glad nie saak nie.”

Volgens Putter mis sy die dae toe sy langs die baan kon staan en sien hoe elke kind hul talente gebruik, ontwikkel en hul sport sommer net pleinweg geniet.

  • Alec Strydom (afrigter van HTS Middelburg se o. 16A-rugbyspan):

Volgens Strydom het sy span vanjaar stadig weggespring, maar hulle het binne ’n japtrap soos een man begin saam oefen en by hul afrigters se plan vir die jaar ingekoop.

“Geniet die tyd wat die Here vir ons gee, vertrou Sy plan en weet dat Jesus se liefde onvoorwaardelik is.”

  • GB Jordaan, Maroela Media se sportfotograaf, het in ’n oomblik van nostalgie ’n paar lekker kiekies gestuur toe Affies en Klofies mekaar in 2012 die stryd aangesê het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.