Onvergeetlike sege vir Woodland; SA se Oosthuizen eindig sewende

Gary Woodland. (Foto: U.S. Open/Twitter)

Dit was ʼn hartseerdag vir Suid-Afrika se Louis Oosthuizen, maar vir die onbesonge 34-jarige Amerikaner Gary Woodland was dit een wat hy waarskynlik nooit in sy gholfloopbaan sal vergeet nie.

Woodland het die Amerikaanse Ope vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) op die Pebble Beach-baan in Kalifornië in die VSA met drie houe gewen nadat hy die vierde ronde in 69 houe voltooi het.

Woodland se totaal van 271 houe was drie beter as dié van sy Amerikaanse landgenoot Brooks Koepka (274).

Hulle is in die gesamentlike derde posisie gevolg deur nog twee Amerikaners, Xander Schauffele en Chez Reavie, John Rahm van Spanje en Justin Rose van Engeland, wat op 277 houe geëindig het.

Oosthuizen en die Australiër Adam Scott het albei op 278 geëindig in die gesamentlike sewende posisie.

Oosthuizen, wat in die vierde ronde vier houe agter Woodland in die gesamentlike derde posisie afgeslaan het, het soos ʼn sneltrein begin ná ʼn voëltjie op die eerste en nog een op die vierde. Hier kom ʼn ding, het sy Suid-Afrikaanse ondersteuners vasgenael voor die televisie gedink, want hy het die eerste nege putjies in 33 houe voltooi.

Maar die opwinding en hoop het soos mis voor die son verdwyn nadat hy op die tiende en 14de putjies houe aan baansyfer afgestaan het.

Hy het op die 17de putjie ʼn derde voëltjie behaal vir ʼn laasteronde-telling van 72, nadat hy in die eerste drie rondtes tellings van 66, 70 en 70 op sy telkaart ingevul het.

Hy het nietemin sowat R5,4 miljoen (US$367 387) met sy vertoning verdien.

Woodland, wat ná die tweede ronde voorgeloop het, het aan sy voorsprong geklou terwyl Koepka in sy nek geblaas het.

Koepka, wat na sy derde opeenvolgende Ope-sege gemik het, het vier voëltjies oor die eerste sewe putjies behaal.

Maar sy stoom het opgeraak terwyl Woodland, wat in sy laaste 27 toernooie nie tussen die top-tien kon eindig nie, kop gehou en die aanslag afgeweer het.

Hy het op die 18de putjie die kroon met ʼn voëltjie-sethou van sowat tien meter gespan.

Wat volgens Golf Channel sy oorwinning soveel soeter maak, is dat sy vrou, Gabby, ʼn  tweeling in Augustus verwag.

Die Woodland-gesin is in 2016 in rou gedompel toe een van hul tweeling dood gebore is.

Met ʼn wentjek van sowat R38 miljoen (US$2 250 000) in die bank, sy eerste sege in ʼn Major, tien jaar se insluiting in die Amerikaanse Ope, vyf jaar gewaarborg in die Amerikaanse Meesters, PGA en Britse Ope én ʼn tweeling op pad, skyn die son weer helder.

* Suid-Afrika se Erik van Rooyen (286) het 43ste geëindig en Justin Walters het 290 houe vir 65ste posisie aangeteken. Hiervoor het Walters nietemin sowat R352 000 (US$23 851) verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kolla ·

Hierdie ouens maak darem geld. Oosthuizen kom 7de en kry R5,45miljoen. ‘n Ander SA’ner kom 65ste en kry steeds R335000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.