Oorsese toetsrugby: Japan verloor, maar bult spiere

Japan se rugbyspan kan nou tereg daarop aanspraak maak dat hy tussen die toptien-spanne in wêreldrugby hoort. (Foto: Donall Farmer / POOL / AFP)

Japan se rugbyspan kan nou tereg daarop aanspraak maak dat hy tussen die toptien-spanne in wêreldrugby hoort.

Japan is Saterdag in Dublin weliswaar met 39 – 31 deur Ierland in ʼn drieëfees van 13 drieë geklop, maar hulle bring ʼn nuwe dimensie aan rugby met hul dinamiese, onvoorspelbare en ondernemende spel.

Hulle is tiende op die jongste wêreldranglys, maar kan binnekort verder opskuif.

Ek onthou nog hoe in sak en as die Japanners in 1995 was toe hulle met 145 – 17 deur die All Blacks in die Wêreldtoernooi in Bloemfontein afgeransel is.

Maar in plaas daarvan om te gaan lê, is daar onomwonde gesê dat ʼn mens eers moet leer kruip voordat jy kan loop.

Dit was die boustene vir die toekoms en met ʼn Japanse Topliga wat nou die beste spelers en afrigters wêreldwyd lok, het hulle sedertdien die Bokke in 2015 se WB-toernooi in Brighton in Engeland geskok en in 2019 met Ierland in Shizuoka in Japan afgereken.

Hulle het sedert 2013 ook vir Wallis, Skotland en Italië geklop.

Saterdag het hulle vier drieë teen die Iere gedruk en kon hulle maklik gewen het as hul stoom nie in die tweede helfte opgeraak het nie.

* In Cardiff het Wallis sy diepte beklemtoon toe hy Kanada met 68 – 12 oorrompel het.

Wallis moes sonder 11 spelers klaarkom wat saam met die Britse en Ierse Leeus deur Suid-Afrika toer met die kaptein Alun Wyn Jones op die beseringlys.

Dan het die vlugvoetige heelagter Leigh Halfpenny in sy 100ste toets ʼn ernstige kniebesering vroeg teen die Kanadese opgedoen wat hom maande lank langs die kantlyn gaan hou.

Maar dit het die Walliesers nie gekeer om maalvleis van die Kanadese te maak nie en tien sprankeldrieë getuig van hul absolute oorheersing.

Wallis speel nou in twee toetse teen Argentinië, terwyl die Iere die Amerikaners, wat Pieter de Haas en Hancu Germishuys insluit, komende Saterdag pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.