Operasie: AB kon nie anders nie

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

AB de Villiers, die Proteas se aangewese kaptein vir toetswedstryde en eendaagse krieket, sal nie teen die Australiese span vir die eendagreeks hier of die toetsreeks in Australië beskikbaar wees nie.

Na ʼn ruskans van ses weke, waartydens sy elmboogbesering intensief behandel is, kon hy nie sy fiksheidstoets slaag nie.

Uiteraard is dit ʼn groot slag vir Suid-Afrika en krieketliefhebbers wêreldwyd dat die voorste kolwer op die eendagranglys en in die sesde plek vir toetskrieket nie sy geniale talent sal kan tentoonstel nie. Hy sal vyf eendagwedstryde in Suid-Afrika en drie toetswedstryde in Australië misloop.

Tydens die fiksheidstoets was sy elmboog swaar verbind, wat sowat 80% verligting gegee het van die kwaai pyn wat AB met die uitvoer van sekere houe ondervind. Vir AB is dit nie goed genoeg nie, want hy wil nie voel hy word geïnhibeer wanneer hy kolf nie.

Die besering is nie die gewone tenniselmboog wat spelers, soos Jacques Kallis en Graeme Smith, gehad het nie. ʼn Operasie is die enigste oplossing.

As alles goed verloop, kan dit AB se krieketloopbaan red en sal hy gereed wees om in Desember teen Sri Lanka te speel.

Rilee Rossouw is in De Villiers se plek in die eendaagse groep opgeneem.

Dit is ironies dat AB, sedert hy verlede jaar as permanente toetskaptein aangewys is, nog nie weer toetskrieket kon speel nie.

Faf du Plessis het reeds die kapteinskap vir die eendaagwedstryde oorgeneem en sal moontlik ook vir die Australiese toetsreeks instaan, soos hy teen Nieu-Seeland gedoen het.

Rilee Rossouw is in De Villiers se plek in die eendaagse groep opgeneem.

Die aangepaste eendaggroep:
Faf du Plessis (kapt.), Kyle Abbott, Hashim Amla, Farhaan Behardien, Quinton de Kock, JP Duminy, Imran Tahir, David Miller, Wayne Parnell, Aaron Phangiso, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Rilee Rossouw, Tabraiz Shamsi, Dale Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.