Oud-Bokkaptein laat nou die speke sing

Pieter Seyffret en John Smit. Foto: Daniel Coetzee vir www.zcmc.co.za.

Terwyl talle sofapôkkelkenners altyd gemor het dat John Smit nie die beste haker in die land was nie, laat dié voormalige Sprinbokkaptein deesdae die speke sing.

Die 40-jarige Smit het ná sy uittrede in 2011 ernstig begin bergfiets ry en sal volgende maand by die TransCape-bergfietswedren in aksie wees.

Die TransCape bestaan uit sewe skofte en dek meer as 500 km deur van die mooiste natuurtonele in die Wes-Kaap. Dit spring op George weg en eindig by die Holden Manz-wynlandgoed in Franschhoek.

Smit het hom aan verlede jaar se wedren onttrek en is oorgehaal om sy bergfietsstaal vanjaar te wys. “Ek is baie opgewonde om vanjaar deel te neem en kan letterlik nie wag vir die aksie om te begin nie.”

Hy sal die skofte saam met sy vriend Shane Chorley aanpak. “Shane is wat mens ’n propperse fietsryer noem. Of wag, hy wás ’n propperse fietsryer vóór hy saam met my begin trap het,” het Smit geskerts.

Fietstrap is hoegenaamd nie vir sissies… ’n Bebloede Joel Stransky by die Cape Epic. Foto: Twitter.

Die fietsrygogga het ook die 1995 Wêreldbekerheld, Joel Stransky, gebyt. Dié klein losskakel is ’n Absa Cape Epic-veteraan en het al hard met Moeder Aarde in dié wedren kennis gemaak.

’n Eerlike Smit het egter gebieg dat hy nie van dieselfde fietsrystoffasie as Stransky gemaak is nie.

“Ek is weliswaar ’n voorspeler, maar ek is nie ’n mamparra nie! Joel is hoegenaamd nie in my teikenmark nie. Hy neem sy voorbereidingswerk baie ernstig op en ek vermoed hy het in tien jaar nie ’n enkele koolhidraat geëet nie!”

Smit was Suid-Afrika se kaptein gedurende die 2007 Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk.

Die TransCape duur van 2 tot 9 Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

In 10 jaar nie enkele koolhidraat!!!?? sulke ouens maak mens klaar…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.