Pakistan laat Proteas pienk bloos

Toe daar nog hoop was. Faf du Plessis vier sy vyftigtal. Foto: Cricinfo.

Die Wanderers op Pienkdag…die venue waar AB de Villiers sy blitshonderdtal van 31 aflewerings gemoker het. Dit is ook dié dag in die jaar wanneer die Proteas basies onstuitbaar is.

In ses kragmetings kon geen besoekende span (hetsy dit Engeland, Wes-Indië of Indië is) nog die Proteas in hul pienk pajamadrag ore aansit nie. Behálwe gister.

Ja, wenrekords is daar om een of ander tyd gebreek te word, maar Faf du Plessis en sy troepe het gister slég tweede teen ’n begeesterde Pakistan gekom.

Die Protea-kolwers het gesukkel en sewe spelers (waaronder Quinton de Kock, Reeza Hendricks en David Miller) is vir minder as 10 lopies uitgeknikker.

Tog was daar hoop met Hashim Amla (59) en Du Plessis (57) voor die paaltjies. Dié twee het ’n vennootskap van 101 lopies om die derde paaltjie gedeel. Maar toe Du Plessis deur Mohammad Hafeez van Shadab Khan se boulwerk uitgevang is, het die klokke vir ’n Protea-kolfineenstorting begin lui.

Die span het agt paaltjies vir 45 lopies verloor om uiteindelik spotgoedkoop vir 164 terug in die kleedkamer te wees.

Ten spyte van ’n paar skitteraflewerings deur Dale Steyn (0/26) en Kagiso Rabada (0/29) het Imam-ul-Haq (71) vasgeskop en sy vennootskap met Babar Azam (41) het die wedstryd finaal buite die Proteas se bereik geplaas.

Die besoekers se oorwinning met agt paaltjies beteken dat die reeks van vyf wedstryde tans gelykop is en dat Woensdag se finale kragmeting op Nuweland dus deurslaggewend sal wees om die reekswenner te bepaal.

*Ten spyte van die Proteas se nederlaag, is daar steeds meer as R1 miljoen vir borskankerbewusmaking ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vra maar net ·

En niemand kan sien dat dit gekook is om toeskouer getalle op te stoot met die finale wedstryd nie. Gebeur al vir jare met al die rugby reekse ook.

Spook ·

En steeds is AB nie beskikbaar nie… En steeds is AB net beskikbaar waar GROOT geld is…. Pick n Choose.

nico k ·

SA het nog steeds ‘n goeie rekord en doen goed in internasionale krieket, maar een swak wedstryd en almal is negatief. Nee man. En om stellings oor omkopery te maak is belaglik. Dit is baie moeilik om ‘n hele span om te koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.