Pleidooi om beter kolfwerk val op dowe ore

Vishwa Fernando het twee vinnige paaltjies in Port Elizabeth geneem. Foto: Cricinfo.

Ottis Gibson se pleidooi dat die Proteas beter in hul eerste beurt moet kolf, het blykbaar op dowe ore geval.

Waar die Proteas op 19/3 op Kingsmead gesteier het, het hulle vandag op St. George’s Park drie paaltjies binne twee boulbeurte verloor.

Op ’n groen kolfblad is die Proteas ingestuur om te kolf en een van Sri Lanka se Durban-helde, Vishwa Fernando, het amok onder die tuisspan se kolwers gemaak.

Fernando het met die bal getoor en gereeld snelhede van vinniger as 140 km/h behaal. Eers is Dean Elgar – wat op die beste van tye nie baie elegant voor die paaltjies lyk nie – skoongeboul.

Met die daaropvolgende aflewering is Hashim Amla ook skoongeboul. Dit is die eerste keer in 214 toetskolfbeurte dat die 35-jarige Durbaniet vir ’n goue eendjie uitgeknikker is.

Daar moet kommer wees oor Amla se plek in die span. Waar hy vir ʼn groot gedeelte van sy loopbaan ’n gemiddeld van bo 50 gehandhaaf het, is sy gemiddeld deesdae 46.95.

Temba Bavuma het homself in die volgende boulbeurt uitgehardloop en die Proteas het op 15/3 gewankel.

Daarna het Faf du Plessis en Aiden Markram die kastaiings uit die vuur probeer krap, maar Du Plessis is op etenstyd deur Dimuth Karunaratne skoongeboul.

Die Proteas se held van die Durban eerste beurt, Quinton de Kock (36*) het ’n goeie vennootskap saam met Markram (60) geniet. Die talentvolle paaltjiewagter se beurt het tot op hede sewe grenshoue ingesluit.

Markram is egter nie te lank gelede been-voor-paaltjie betrap en die jongste beskikbare telling is 139/5.

Indien Sri Lanka dié toets wen, sal hulle die eerste span uit Asië wees wat ’n toetsreeks in Suid-Afrika wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Die chokers was netnou 176/7, dus gaan dit nie veel beter nie.

LOL ·

@Johann- volgens CricInfo en News24 het Proteas die loot gewen en verkies om te kolf? Op ‘n groen blad duidelik weer ‘n Protea blaps.

Krieket Liefhebber ·

Vraag nommer een:
Hoekom as Faf die loot wen besluit om te kolf,huidiglik is ons kolwers se selfvertroue nie te waffers nie. Ons sit met n dodelike boul aanval en Sri lanka het behalwe perera se wonder beurt gewys dat hulle nie eintlik n antwoord vir ons boulers het nie.
Sri lanka moes eerste kolf en dadelik onder druk geplaas word,daardie geleentheid was daar maar vir een of ander rede dink hulle klaarblyklik nie so nie.

Tweedens, hoeveel kanse moet Amla en Elgar kry? Laat hulle bietjie gaan rus, gee ander n kans.
Nog n vraag:
Die Ausies het soveel keer bewys deur met n aanvallende kolwer soos David Warner te begin werp vrugte af,hy speel sy normale game en die lopies kom, hoekom nie De Kock saam met Markram open nie, Markram kan sy werk doen deur vas te probeer staan en De Kock kan lopies laat reen, hys op uitstekende vorm, hoekom nie?
As hulle dan sekerheid soek op ses speel Elgar daar.Wat help dit De Kock kom so laat in maar niemand kan langs hom bly staan nie.

Nog n vraag, hulle bly vir Maharaj speel maar hy doen nie veel nie, in Tahir het ons iemand wat kan paaltjies vat en wat altyd met sy hart speel.

JohanL ·

@Krieket Liefhebber, dankie vir jou krieket inset en denke. My opinie en reaksie en dit beteken nie ek is reg nie.

Oor die algemeen is die blad op PE stadig en ek wonder of Faf en die breinstrust dit nie in gedagte gehou het nie? Hulle wil nie laaste in die toets kolf op ‘n nog stadiger blad wat SL se boulers gaan bevoordeel nie? Jy is korrek en ek stem saam, as ons SL kon instuur en vinnig onder druk plaas, was dit ideaal. Die vraag is natuurlik : “Sou ons hulle wel kon vinnig uithaal?” Ons kan maar net spekuleer en nie een van ons weet nie.

Stem saam met jou op jou tweede punt en kan niks fout vind met daai argument nie. Die ander hoek is natuurlik as ons eerste veldwerk doen, beteken dit de Kock moet gaan open na hy vir ‘n dag lank “die besigste veldwerker” was. Menige krieketspelers reken dit is nie ideaal nie? Ek weet nie – ek was nooit paaltjiewagter nie. Wat ek wel hou van de Kock op nommer 6, is dat hy kan inkom en met sy positiewe kolfwerk kan amok maak en reg kan wees vir 2de nuwe bal. Dalk moet Elgar bloot net vervang word met iemand anders?

Kom ons kyk wat gebeur vandag. ‘n Vinnige verdere 3 paaltjies en…… ????

Pietman ·

Miskien moet span maar onttrek van internasionale kompetisies en publiek maar die verleentheid spaar.

protea fire ·

jul is almal sooo negatief..ons het soveel reekse gewen tuis en weg…een verloor teen Sri Lanka en die toets nog lank nie verby nie?Toets krieket is nie n grap nie..Proteas steeds ons span!

Anoniem ·

Daar skort iets met die top 5 kolwers se tegniek, want die meeste van hulle word gereeld skoon geboul.

Albert ·

Dit gebeur wanneer jy dink jy is groter as die sport. Swak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.