Pollard en Papier ʼn kookwater-kombinasie

Embrose Papier het met sy flinke diens aan Handré Pollard beïndruk. Volgens Breytenbach sal die Bulls dié jong speler mooi moet oppas. Foto: Facebook.

Een swaeltjie maak nog geen somer nie. Net só verseker ’n skitterende Handré Pollard/Embrose Papier-vertoning vroeg in die Superreeks nie noodwendig dat dié kombinasie die Webb Ellis-trofee sy pad terug na Suid-Afrika sal laat vind nie.

Maar goeiste, hul vertoning die afgelope naweek teen die Stormers het mens rede gegee om te droom.

“Pollard is tans verreweg die beste losskakel in Suid-Afrika,” sê oud-Bloubulskrumskakel Conrad Breytenbach.

Breytenbach was in die laat 1990’s die Bulle se nommernege saam met Joost van der Westhuizen, terwyl hy in 1998 die openingsdrie vir die Pretorianers in hul suksesvolle Curriebekereindstryd teen die Westelike Provinsie gedruk het.

“Faf (de Klerk) is weliswaar nog die Bokke se eerste keuse vir skrumskakel, maar Pollard se kombinasie met Papier wérk.”

Handré Pollard het die spel uitstekend teen die Stormers dikteer. Foto: GB Jordaan.

Volgens Breytenbach gee Papier vir Pollard die tyd en ruimte om sy stempel as spelskepper af te druk. Hy sal egter nog eers sy tande in ’n paar internasionale toetse moet slyp, vóór hy vir De Klerk uit sy stewels kan lig.

“Embrose het my Saterdag baie beïndruk met sy flink aangeewerk, terwyl hy nie skroom om self met die bal te hardloop nie. Hulle het baie goed gekombineer en sy vinnige skoonmaakspel het Handré goed aangevul. Die kommunikasie tussen hulle het ook lekker gevloei: hy het voor hy die bal uitgegee het, geweet waar sy losskakel is.”

Maar wat is die sleutel tot ’n suksesvolle verstandhouding tussen ’n skrumskakel en losskakel?

“As jy die handvatsel vinnig beweeg, dan sal die sweep se punt klap; dieselfde geld in die rugbywêreld. Wanneer die nommernege vinnig agter die losgemaal/skrum skoonmaak en nie eers staan en rondkyk nie, kan die vleuels ook broodnodige spasie en tyd gegun word om aan te val en hul teenstanders te klop,” sê Breytenbach.

“Die losskakel is egter die spilpunt waarom alles vir ’n span draai. Hy moet kalm wees in druksituasies, maar terselfdertyd moet hy opsies gebied word en dan die beste keuse vir die span maak: maak nie saak of dit skop, aangee, of self ’n breekslag-poging is nie. Hy moet die spel kan lees en dodelik wees met die skopvoet; nie net pale toe nie maar ook na die kantlyn.

“Pollard het regmerkies langs die meeste van dié boksies. Met sy huidige spelpeil is hy kookwater – dit lyk asof hy tien minute tyd het om die spel te dikteer, al het hy net sekondes om die besluit te neem.”

  • Die Bulls het die Stormers Saterdag ore op Loftus Versfeld aangesit. Pollard was in die kol met vier doel- en vier strafskoppe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Frans C ·

Die Pollard/Papier kombinasie was onder geen druk nie. Dinge verander egter vinnig wanneer sterk pakke voorspelers soveel druk toepas dat skakelpare onder druk beland.

Engeland het teen Ierland bewys dat rugby voorlangs gewen word en van die Iere se aanvalswerk is min gesien. Ierland het agterlangs onder die druk gevou omdat hul gedurig moes omdraai omdat Engeland met slim skoppies die bal gedurig agter hul geplaas het.

‘The proof of the pudding is in the eating’. Indien die Bulls voorlangs kan bly domineer
sal hul goed vaar.Val hul daar uit die bus gaan die gewone patroon sigself herhaal,
‘n Blink vertoning gevolg deur ‘n gesukkel. Die Leeus het bewys dat die Jaguars sonder hul planmaker Nicolas Sanchez ‘n swakker span is en het die Bulls ‘n gulde geleentheid
om die kat te tem.

nulle ·

Ek hou van ‘n ratse, vinnig van die merk af losskakel. Dis alles wat die lompe Pollard nie is nie. Rêrig ‘n jammerte dat ons nie beter as Pollard tans in SA het nie.

ACJ ·

Wat belangrik is die man speel vir SA of jy daarvan hou of nie hy en papier wil net vir Rassie wys hy onderskat papier wat hy nie wil kans gee nie,hyt homself bewys.

Afrikaan ·

Ek hou van mense wat intelligente, ingeligte kommentaar lewer. Eintlik wat jy probeer sê is dat jy dink Willemse is die antwoord. Pollard leer hom met elke wedstryd ‘n rugbyles.

Hendrik UAE ·

Lyk vir my Pollard het geWERK in die gimnasium in die aftyd. Die man lyk goed.Hoop nie dit beinvloed sy spoed nie.

100M ·

Nee wat n paar spiere beinvloed nie spoed nie, as jy gaan Google hoe lyk die standaard 100m mans atleet.

nulle ·

Spoed en Pollard kan nie in dieselfde asem genoem word nie. Donkiekar eerder.

Pierre ·

Hier is weereens ‘n voorbeeld, baie negatiewe kommentaar van ons lesers, niks positiefs nie en dis maar weer ‘n ou ding van suur druiwe. Toe die Bulls nie die mas kon opkom nie en aan die verloor kant gestaan het was hulle uitmekaar getrek. Nou wen hulle behoorlik en steeds dieselfde geld. Pollard dit en Pollard dat, die Bul dit en daai bul dat, siestog as jy nie ‘n Bulls ondersteuner is nie, jammer vir jou, ons het vir baie lank op die planke gele waar ons regtig swak was, so kom ons praat eerder weer aan die einde van die seisoen, dit is duidelik dat die verandering in die Bulls stal die beste ding is ooit, die WP sit nou presies op dieselfde plek. Kom ons gee krediet waar dit toekom. Vat jou pak soos ‘n man.

Jaco ·

Ek stem saam met Pierre ou nulle is seker n Stormers ondersteuner,kyk as die bordjies verhang word dan word daar sulke kommentaar gelewer dis in my siening suur druiwe. Ja dis die begin van die seisoen en Superugby word nie gewen in die eerste week nie, maar gun die Bulle die wen hulle was Saterdag die beter span en het hulle kanse beter gebruik, alhoewel hulle 12 strafskoppe afgestaan het. Hulle dissipline was ook beter as die Stormers. Dok Craven het altyd gesê jy is so goed soos jou vorige game, so kom ons kyk wat gebeur Saterdag dan is die bordjies weer gelyk en die span wat voorlangs domineer en sy kanse gaan gebruik gaan beslis die wedstryd wen.
Sterkte ou Grootte!!!

Dries ·

Papier het ‘n paar keer nie die bal vinnig genoeg skoongemaak nie. Hy het soos “Slowpoke Ross Cronje” eers gestaan en rondkyk dat ‘n voorspeler gekry om voor hom te staan, dan rondgekyk en dan geskop. My flippen, hoe beter wil hy die ander span wys wat hy gaan doen en hul kans gee om in posisie te kom.

Lol ·

Lionel Cronje het hope meer talent as Pollard. As hy Pollard se geleenthede gekry het was hy al ‘n legende, Pollard moet nog een word.

Afrikaan ·

@nulle
Hierdie berig gaan oor die goeie kombinasie wat 2 spelers vorm, ‘n kombinasie wat ons afrigters hoofbrekens besorg al vir ‘n lang tyd. Nou is daar weer ‘n kombinasie wat ons opgewonde maak, so laat staan jou nydige en onvanpaste kommentaar en as jy enigsins ‘n ware rugbyondersteuner is, wees eerder saam met ons bly.

Ben ·

Net een vragie aan MM, weet julle dat ander spanne soos die Lions ook gespeel het. Daar word nerens iets oor daai games gese nie. Baie mooi vir die Bulls, maar een swaeltjie maak nie n somer nie.

Skerp Spioen ·

Ons bul ondersteuners sal hierdie een vat baie dankie.
Ons besef egter heel goed dat die blindeskool geen maatsaf is nie.
En ook dat geen beker na een wedstryd gewen word nie.
Maar so ‘n wen teen die ou vyand is lekkerder as gekookte kondensmelk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.