Pretorius kan die lig aan die einde van Blitsboktonnel wees

JC Pretorius op die aanval vir die Pumas gedurende die Cravenweek. Foto: Facebook.

In Middelburg het mense altyd geweet dat JC Pretorius nog groot rugby gaan speel. Die blondekop flank het stervertoning ná stervertoning vir HTS Middelburg gelewer.

En soos een plattelandse oom tereg langs die veld opgemerk het: “ʼn Mens kry skoolrugbyspelers, en dán kry jy vir JC Pretorius.”

Pretorius was op skool so te sê onstuitbaar. Hy was ’n driedrukmasjien wat sy hart en siel vir HTS Middelburg uitgespeel het. In twee opeenvolgende derby-wedstryde teen Hoërskool Middelburg (MHS), basies die Chiefs teen Pirates van skoolrugby in Mpumalanga, het hy ’n driekuns van drieë in die twee wedstryde gedruk.

In 2015 het hy MHS se terugvegpoging finaal in die wiele gery terwyl hy in 2016 die buurskool met ’n kragtoer van sy eie van die veld geblaas het. Die Rooies het dié wedstryd 67-6 gewen en die legende van JC Pretorius het rondom Middelburgse braaivleisvure gestalte gekry.

’n Groot speler word egter nie net aan sy talent en vaardigheid geken nie, maar ook sy bereidwilligheid om 100% vir sy span te gee. In die 2016-derby het hy letterlik sy rugbystewels stukkend gespeel.

“Dit was my lucky tokse waarin ek reeds van my gr. 10-jaar speel. Toe dit skeur moes ek noodgedwonge ’n paar by een van die plaasvervangers leen,” het hy destyds in ’n onderhoud gesê.

Die blonde flank het ook in daardie wedstryd só hard gespeel dat hy twee keer langs die skrums opgegooi het. Dit is toewyding wat ʼn mens nie kan aanleer nie, jy word daarmee gebore.

Natuurlik het van die groter unies hom begin raaksien en nadat hy die Pumas vir twee jaar in die Cravenweek verteenwoordig het, die SA Skole-span gehaal het én vir die SA o. 18-sewesspan uitgedraf het, het hy sy ouderdomsrugby by die Blou Bulle gaan speel.

En dit is híér waar die ooreenkomste tussen Pretorius en HTS Middelburg se ander liefling, Kwagga Smith, getref word.

Pretorius ontvang sy Blitsbokkleure van Kyle Brown. Foto: Facebook.

Albei spelers is flanke in die vyftienmanweergawe van die spel, hulle al twee het hul rugbyheil in Gauteng gaan soek en albei het hul sewesloopbane so tussendeur die Curriebeker gebalanseer.

Tog het ʼn mens altyd die gevoel gekry dat Pretorius eerder as die “eerste JC Pretorius” bekend wil staan, as die “volgende Kwagga Smith”.

Hy het al onder meer die jong Bulle aangevoer en was gereeld onder die lys van puntemakers ná ’n o. 19-Curriebekerwedstryd. Terselfdertyd was hy ook deel van Marius Schoeman se nasionale sewesakademie.

Met die Blitsbokke wat nie te watwonders in Hamilton gevaar het nie – hulle is 7-29 deur Nieu-Seeland om die derde plek geklop – kan Pretorius die antwoord op Neil Powell se vrae wees.

“Een van JC se groot sterk punte, is sy versnelling. Ek het nog nooit in my eie speeldae, óf as afrigter, ’n speler gesien wat só vinnig van die merkie kan versnel nie,” sê sy destydse afrigter by HTS Middelburg, Coené Nolte.

En met spoedvrate soos Seabelo Senatla en staatmakers soos Smith wat die Blitsbokkamp verlaat het, kan Pretorius help om die Blitsbokke weer op koers te kry.

Mits hy reg bestuur word en genoeg speelkans kry.

Want Johannes Christoffel “JC” Pretorius kan nog diep spore in Suid-Afrikaanse rugby trap. Sy naam mag dalk nog nuut wees vir baie rugbyondersteuners, maar in Middelburg weet hulle lank reeds van hom.

  • Die Blitsbokke speel volgende in Sydney. Hulle is saam met Australië, Argentinië en Tonga in ’n groep ingedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

nico k ·

Die probleem is in groot rugby soek mense vandag groot flanke. Hy word vergelyk met Kwagga Smith en dit is duidelik dat Kwagga nooit gaan springbok speel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.