Pretorius reeds van skooldae ’n rugbykrag

JC Pretorius. (Foto: Twitter)

JC Pretorius is saam met Ronald Brown en Selvyn Davids in die droomspan van die afgelope naweek se sewestoernooi in Dubai opgeneem.

En ’n mens kan verstaan waarom die sewesringkoppe hom gekies het.

Die blondekop oudleerling van HTS Middelburg het sy Blitsbok-buiging in 2019 in Australië gemaak, en selfs al het die wêreldwye Covid-19-pandemie die 2020-sportkalender in die wiele gery, is hy deesdae ongetwyfeld een van die staatmakers in die span.

Pretorius het in 13 toernooie reeds 140 punte aangeteken en benewens sy sewesvoorspeler-vaardighede is hy ook deksels vinnig: Tydens ’n toernooi in Vancouver het hy ’n spoed van 35 km/h op die aanval bereik.

En soos almal weet – daar is geen plaasvervanger vir spoed nie.

Pretorius was ’n skitterende skoolrugbyspeler en hy het flank vir HTS Middelburg en die Pumas se Cravenweekspan gespeel. Foto: Facebook.

Die 23-jarige het al in sy skooldae sy rugbystempel afgedruk en almal was maar net te bewus van sy onbetwisbare vaardighede en talent.

Soos een plattelandse oom tereg langs die veld opgemerk het: “ ʼn Mens kry skoolrugbyspelers, en dán kry jy vir JC Pretorius.”

Pretorius was op skool so te sê onstuitbaar. Hy was ’n driedrukmasjien wat sy hart en siel vir HTS Middelburg uitgespeel het. In twee opeenvolgende derby-wedstryde teen Hoërskool Middelburg (MHS), basies die Chiefs teen Pirates van skoolrugby in Mpumalanga, het hy ’n driekuns van drieë in die twee wedstryde gedruk.

In 2015 het hy MHS se terugvegpoging finaal in die wiele gery terwyl hy in 2016 die buurskool met ’n kragtoer van sy eie van die veld geblaas het. Die Rooies het dié wedstryd met 67-6 gewen en die legende van JC Pretorius het rondom Middelburgse braaivleisvure gestalte gekry.

Nodeloos om te sê was vriend en vyand beïndruk met sy spel.

JFoto: GB Jordaan

“Ek het nog nooit in my eie speeldae, óf as afrigter, ’n speler gesien wat só vinnig van die merkie kan versnel nie,” het sy destydse skoolafrigter, Coené Nolte, gesê.

Neil Powell (Blitsbok-afrigter) het Pretorius ’n paar jaar met nóg ’n oudleerling van HTS Middelburg vergelyk.

“JC kan mense met sy fisieke spel verras en hy is amper dieselfde speler as Kwagga Smith. Hulle het ’n soortgelyke ingesteldheid en hulle laat hulle teenwoordigheid met hul plettervat-duikslae geld,” het Powell gesê.

Maar ná ’n hele paar toernooie op die internasionale verhoog is JC Pretorius ongetwyfeld ’n seweslegende in wording. En deesdae is hy die maatstaf waarteen opkomende spelers hulself meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.