Pretorius se Blitsbokpartytjie

Pretorius ontvang sy Blitsbokkleure van Kyle Brown. Hy het vir Brown in die begingroep vervang. Foto: Facebook.

Wanneer jy mondig word, kry die meeste van ons waarskynlik ’n getekende kaartjie van ma en pa – bygesê dit is nou as jy gelukkig is. Maar nie JC Pretorius nie…

Die jong rugbyspeler het vroeër vandeesweek sy 21ste verjaardag in Australië gevier, maar hy moes vir die naweek vir die kersie op die koek wag.

Dié oud-leerling van HTS Middelburg sal die naweek in Sydney sy amptelike Blitsbokdebuut maak, ná hy verlede week die span se reserwe in Hamilton was. Hy sal die ervare Kyle Brown op haker vervang.

Die Blitsbokke was futloos in die uitspeelwedstryde. Hulle het eers sleg teen Fidji in die bekerhalfeindstryd vasgeval en toe het Nieu-Seeland hulle oortuigend om die derde plek geklop.

Pretorius se insluiting kan broodnodige momentum aan die span verleen. Hy is jonk, talentvol en skroom nie om vir veel groter spelers aan te vat nie.

Die wedstryde word regstreeks op SuperSport1 uitgesaai.

Blitsbokke vir die Sydney-toernooi: Chris Dry, Phillip Snyman, Impi Visser, Zain Davids, Werner Kok, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Justin Geduld, Dewald Human,Siviwe Soyizwapi en Stedman Gans,

Bepalings vir 2 Februarie:

01:50: Blitsbokke teen Tonga

07:18: Blitsbokke teen Argentinië

11:23: Blitsbokke teen Australië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groot ·

Ek sou hoop hy skroom nie om groter spelers aan te vat nie- nou staan hy terug vir hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.