Proteas op drafstap baas teen Ierland

Suid-Afrika teen Ierland (25 September 2016) Foto: @SuperSportTV, Twitter

Suid-Afrika teen Ierland (25 September 2016) Foto: @SuperSportTV, Twitter

Suid-Afrika se krieket-Proteas het die eendagwedstryd teen Ierland op Willowmoorepark Sondag op ʼn drafstap met 206 lopies gewen.

Dit was eintlik niks meer as ʼn opwarming vir die vyf eendaagse wedstryde teen Australië nie, waarvan die eerste Sondag in Centurion gespeel word. Die Ierse boulaanval was maar redelik gemiddeld en die veldwerk was ook nie waffers nie, om van die kolfwerk nie eers te praat nie.

Die Proteas, met sewe spelers van kleur, is deur Ierland ingestuur om te kolf.

Temba Bavuma was een van die drie Suid-Afrikaanse spelers wat sy debuut gemaak het. Hy het as aanvangskolwer ietwat onseker begin maar toe sy voete gevind en saam met Quinton de Kock ʼn vennootskap van 159 lopies in 144 balle om die eerste paaltjie daargestel.

De Kock is op 82 lopies (66 balle) skoongeboul maar Bavuma het voortgekolf en ʼn skitterende debuut-honderdtal behaal nadat hy met sy sewende bal ʼn maklike vangkans gebied het.

Hy het dié gelukskoot uitgebuit en is met Suid-Afrika in beheer met sy telling op 113 (153 balle) en die telling op 227/3 uitgevang.

Faf du Plessis het net 21 aangeteken en die harde slaner David Miller, wat net op dreef wou kom, is agter die paaltjies uitgevang toe hy 14 gehad het.

Die aanvanklike vinnige lopietempo was toe skielik redelik onindrukwekkend. Nadat dit in ʼn stadium gelyk het of die Proteas 400 lopies sou aanteken, was daar in ʼn stadium twyfel of hulle 300 sou bereik.

JP Duminy en Farhaan Behardien het egter toe losgetrek en uitstekend gekolf. Na hulle vennootskap van 87 lopies in 40 balle is Behardien met die kolfbeurt se laaste bal op die grens en met die totaal op 354/5 uitgevang.

♦  Ierland se kolfbeurt het rampspoedig begin toe hulle kaptein, William Porterfield met die tweede bal van die kolfbeurt deur Kagiso Rabada beenvoor betrap is.

Proteas se boulers het die Iere onder druk gehou. Wayne Parnell was vurig, maar soos altyd redelik wisselvallig. Tog het hy met ʼn goeie kortbal en die telling op 26 ʼn deurbraak gemaak en daarna het die paaltjies gereeld gekantel.

Die nuweling Dwaine Pretorius het in sy tweede boulbeurt in internasionale krieket ʼn paaltjie geneem en sy mede-debutant Andile Phehlukwayo was bestendig en ongelukkig om nie ook sý internasionale loopbaan met ʼn paaltjie te begin nie.

Net die Ierse aanvangskolwer Paul Stirling (40) en die ervare Kevin O’Brien (41) het werklik met die kolf weerstand gebied. Ierland kon net 148 aanteken voordat hulle na 30.1 boulbeurte uitgehaal is. JP Duminy het 4/16 geneem.

Dit was ʼn teleurstellende vertoning deur Ierland wat drie uit die vyf keer wat dit in Wêreldbekertoernooi gebeur het, 300 lopies in hulle 50 boulbeurte aangeteken het en al talle van die grotes laat struikel het.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika 354 (Kolf: Temba Bavuma 113, Quinton de Kock 82, JP Duminy 52* Farhaan Behardien 50, Faf du Plessis 21, David Miller 14. Boul: Kevin O’Brien 2/66, Craig Young 3/81)
Ierland 148 (Kolf: Kevin O’Brien 41, Paul Stirling 40. Boul: JP Duminy 4/16, Aaron Phangiso 2/33, Wayne Parnell 2/136, Dwayne Pretorius  1/19 Andile Phehlukwayo 0/22)

Suid-Afrika wen met 206 lopies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Ai shame die arme Iere het so mooi probeer, maar nou ja the Leprechaun luck was nie saam met hulle nie.
Well done aan ons boys…. Dis ‘n geval van klein maar getrain!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.