Proteas sal drukkoker moet kan hanteer

David Miller en Faf du Plessis. Miller het tot dusver ’n stil reeks teen Pakistan gehad. Foto: AP Photo/Trevor Collens

Kom ons gebruik ’n skreiende anglisisme en noem ’n graaf op sy naam: ’n graaf. Dit is algemene kennis dat die Proteas nie goed in drukkokersituasies vaar nie. Dink maar terug aan basies elke wêreldbeker-uitspeelwedstryd, hetsy teen Nieu-Seeland, Wes-Indië, Australië of Sri Lanka.

Daar was al vantevore redes gewees om weer te begin glo, soos die keer toe Herschelle Gibbs se flambojante kolfwerk die Proteas in staat gestel het om 434 lopies suksesvol teen die Aussies op die Wanderers te jaag. Maar dis meer ’n geval van mis as raak wanneer die Proteas in ’n móét-wen-wedstryd speel.

Nóú bevind Faf du Plessis en sy span hulle in ’n soortgelyke situasie wanneer hulle vanmiddag teen Pakistan in die laaste eendagwedstryd van die reeks te staan kom. Met die telling op 2-2 ná vier wedstryde sal die wenner van die Kaapstad-kragmeting met die reekssilwerware wegstap.

Die momentum is definitief aan Pakistan se kant, nadat hulle die Pienkdag-kragmeting oortuigend met agt paaltjies gewen het. En dit boonop sonder hul staatmakerkaptein en -paaltjiewagter, Sarfraz Ahmed, wat vir vier wedstryde deur die IKR geskors is.

Reeza Hendricks (Foto: Krieket Suid-Afrika, Twitter)

Die Proteas se kolwers was tot dusver maar wankelrig, met net Reeza Hendricks, Rassie van der Dussen en Hashim Amla (wat teen ʼn slakkepas-tempo voortkolf) wat enige noemenswaardige bydraes met die wilgerlat gemaak het.

In die vorige kragmeting is sewe Protea-kolwers vir minder as tien lopies uitgehaal en hulle sal beslis hul partytjieskoene vir die Nuwelandse makietie moet aantrek.

Die Nuweland-kolfblad sal waarskynlik ook nie ’n snelboulersparadys wees nie en die insluiting van ’n spesialisdraaier word dus genoodsaak.

Die Protea-ringkoppe wil waarskynlik die witbalreekse teen Pakistan en Sri Lanka gebruik om litte vir die komende Wêreldbeker mee los te maak. Maar om ’n reeks te wen is byvoorbeeld baie lekkerder as om een te verloor – selfs al wil jy net aan ’n span skaaf.

Die eerste aflewering word binne ’n halfuur om 13:00 afgestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Dis snaaks dat Amla met ‘n slakkepas-tempo, soos jy sê, kolf en wel die hoogste treftempo van die voorste 5 lopie makers in die reeks het (86.64). Wat sal dan die bes beskrywendste woord wees vir die ander kolwers se treftempo?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.