Proteas: Sal ’n draaier sy kans kry?

Keshav Maharaj en Hashim Amla vier ’n paaltjie. Foto: Cricinfo.

In ’n wêreldbekerjaar behoort die kollig nie soseer op toetskrieket te wees nie, maar die puriste sal jou steeds vertel dat ’n vyfdagkragmeting krieket se suiwerste vorm is.

In vorige jare sou die Proteas ’n hele battery snelboulers vir ’n Durbantoets gekies het – soos in 1996 toe Allan Donald en kie Indië vir 66 en 100 uitgeknikker het. Maar die dae wat die Durbanblad giftiger as ’n groen mamba was, is verby en deesdae speel draaiers ’n veel groter rol.

Die insluiting van Keshav Maharaj is dus ’n moet vir die tuisspan. In 23 toetse het dié linkshandige draaier reeds 90 paaltjies laat spat teen ’n gemiddeld van net meer as 28. Sy spogboulontleding van 9/129 was juis teen Sri Lanka in Asië.

So gepraat van daardie reeks – die Proteas was heeltemal opgedons in die 2018-toer en hulle sal dus oorgehaal wees om die bordjies te verhang.

Maar om in Durban en later in Port Elizabeth – waarskynlik die twee mees draaiervriendelike blaaie in die land – te speel, kan in Sri Lanka se guns tel.

Boonop is die Proteas se rekord op Kingsmead nie te waffers nie. Hulle het net een van hul laaste sewe toetse by dié venue gewen, terwyl hulle ses verloor het. Dan het Sri Lanka hul eerste en enigste toetsoorwinning in Suid-Afrika op die einste veld behaal.

Hulle sal egter sukkel; hulle is vroeër deur Australië verniel, terwyl hul kaptein, Dinesh Chandimal, die trekpas gekry het omdat hy met die kolf sukkel.

Vir die Proteas het die 20-jarige Wiaan Mulder die toetsgroep gehaal. Hy was deel van die onlangse T20-groep teen Pakistan, maar het nie speelkans in die reeks gekry nie.

Die Protea-keurders is reeds lank op soek na ’n sterk veelsydige speler in die toetsspan. Sedert Mulder van sy kniebesering teruggekeer het, was hy witwarm vir die Lions in die plaaslike meerdagreeks.

In drie wedstryde het hy tot dusver 10 paaltjies laat kantel, terwyl hy 146 lopies teen die Knights gemoker het.

  • Die eerste aflewering word môre om 10:00 afgestuur. Die wedstryd word regstreeks op SuperSport 2 en op SABC3 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JKFS ·

Ons speel te veel teen minnows, hoop die proteas is trots op hulself, darm n bietjie geluk voor ons begine choke!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.