Proteas sal weer wil beïndruk

Die 25-jarige Anrich Nortje sal nog ’n paar kanse gegee word om sy stempel af te druk. Foto: Cricinfo.

Suid-Afrika het nog altyd lekker krieket op SuperSport Park gespeel. Die baanblad is normaalweg vinnig en die dun lug op die Hoëveld sorg tradisioneel vir ’n lopiefees soos min.

Genadiglik het Faf du Plessis en sy Proteas van hul kritici se monde gesnoer met ’n sterk vertoning in die eerste witbalwedstryd op die Wanderers, maar om daardie geykte sportuitdrukking te gebruik waarvoor almal so lief is: een swaeltjie maak nie ’n somer nie.

Net so maak een goeie wen in ’n Wêreldbeker‑jaar jou nie skielik die gunsteling om die silwerware later vanjaar te lig nie.

Maar dit is steeds ’n klein treetjie in die regte rigting en die Proteas sal beslis ’n bietjie momentum wil bou voor die skouspel Meimaand in Engeland begin.

Imran Tahir het die horlosie teruggedraai en soos die draaier van ouds in Johannesburg geboul. Hy was die suinigheid vanself deur net 26 lopies in sy 10 boulbeurte af te staan, terwyl hy ook drie sleutelpaaltjies geneem het.

Met Tahir op dreef, het Suid-Afrika die vermoë om die middelbeurte van ’n eendagwedstryd te beheer. Boonop is die Wêreldbeker sy eendagswanesang en dié oud-Pakistanburger sal vir oulaas alles in die stryd vir sy nuwe land wil werp.

Die opwindende Anrich Nortjé behoort vandag weer ’n kans te kry, terwyl Dale Steyn ook speelkans kan kry.

Dit was egter met die kolf waar die Proteas die meeste op die Wanderers beïndruk het. Ja, Reeza Hendricks was goedkoop uitgeknikker, maar dié Knights-speler het waarskynlik reeds vooraf genoeg gedoen om sy plek in die Wêreldbekerspan te verseker.

Faf du Plessis het gepronk met sy praghonderdtal, terwyl Quinton de Kock en Rassie van der Dussen beduidende rolle in die lopiejaagtog gespeel het.

In ʼn Wêreldbeker‑jaar is ’n wen waarskynlik nie só belangrik as om jou spankombinasie reg te kry nie. Maar dit beteken egter nie jy moet vervelige verloorkrieket speel nie: kyk net na die opwindende Wes-Indië/Engeland‑reeks.

Die eerste aflewering word om 13:00 afgestuur en die wedstryd word regstreeks op SuperSport2 en SABC3 uitgesaai.

  • Hoe die Proteas se span kan lyk: Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Rassie van der Dussen, Faf du Plessis (kaptein), David Miller, Wiaan Mulder, Andile Phehlukwayo, Dale Steyn, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi, Imran Tahir.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.