Sy is Donderdag by die Hoypark- binnehuise sentrum in Durban van die baan gehelp nadat sy vermoedelik ʼn kruisligament in haar knie geskeur het. Holtzhausen sal Maandag ná ʼn skandering en ʼn spesialis-ondersoek weet hoe groot die skade is.
Die Proteas speel vanaf 27 Augustus in die vierhoekige reeks in Auckland en Melbourne teen die topdrie spanne op die wêreldranglys. Australië, Nieu-Seeland en Engeland sal Suid-Afrika, vyfde op die wêreldranglys, ʼn goeie aanduiding gee van waar hy tans staan.
Jamaika, vierde op die ranglys en een plek bo Suid-Afrika, speel nie in die reeks nie.
Suid-Afrika se eerste wedstryd in die reeks wat op 27 Augustus in Auckland begin, is teen Australië ná die openingswedstryd tussen Nieu-Seeland en Engeland.
♦ Tydens verlede week se nasionale kampioenskap in Durban het die Wes-Kaap, wat nou as ʼn provinsie saamspeel nadat daar jare lank op streeksgrondslag as die Boland en die Westelike Provinsie meegeding is, die Vrystaat 50-35 in die eindwedstryd geklop. Die verdedigende kampioen Noordwes is met ʼn neerlaag in sy laaste twee wedstryde deur Gauteng 1 en die Wes-Kaap uit die eindstryd gedwing.
♦ Die supermarkreus Spar het ook tydens die week, met die meer as 300 spelers teenwoordig, die hernuwing van sy borgskap bekend gemaak. Die nasionale span sal dus steeds as die Spar Proteas bekend staan.
Die R35 miljoen-borgskap sal volgens die uitvoerende bemarkingshoof van Spar, Mike Prentice, gebruik word om die Proteas as span, die internasionale toernooi waarheen van die wêreld se bestes genooi word om in Suid-Afrika te kom speel, die junior nasionale span, die jaarlikse nasionale kampioenskapstoernooi, die Premierliga, ontwikkeling, administrasie en die algehele bevordering van die sport te ondersteun.
(Inligtingsbron: netball-sa.co.za)