Proteas se kaptein sal vandag oor besering weet

Maryka Holtzhausen. Foto: Netbal SA/Twitter

Maryka Holtzhausen. Foto: Netbal SA/Twitter

ʼn Skrale 12 dae voor die vierhoekige internasionale netbalreeks in Australasië heers daar onsekerheid oor die beskikbaarheid van die Spar Proteas se kaptein, Maryka Holtzhausen.

Sy is Donderdag by die Hoypark- binnehuise sentrum in Durban van die baan gehelp nadat sy vermoedelik ʼn kruisligament in haar knie geskeur het. Holtzhausen sal Maandag ná ʼn skandering en ʼn spesialis-ondersoek weet hoe groot die skade is.

Die Proteas speel vanaf 27 Augustus in die vierhoekige reeks in Auckland en Melbourne teen die topdrie spanne op die wêreldranglys. Australië, Nieu-Seeland en Engeland sal Suid-Afrika, vyfde op die wêreldranglys, ʼn goeie aanduiding gee van waar hy tans staan.

Jamaika, vierde op die ranglys en een plek bo Suid-Afrika, speel nie in die reeks nie.

Suid-Afrika se eerste wedstryd in die reeks wat op 27 Augustus in Auckland begin, is teen Australië ná die openingswedstryd tussen Nieu-Seeland en Engeland.

♦  Tydens verlede week se nasionale kampioenskap in Durban het die Wes-Kaap, wat nou as ʼn provinsie saamspeel nadat daar jare lank op streeksgrondslag as die Boland en die Westelike Provinsie meegeding is, die Vrystaat 50-35 in die eindwedstryd geklop. Die verdedigende kampioen Noordwes is met ʼn neerlaag in sy laaste twee wedstryde deur Gauteng 1 en die Wes-Kaap uit die eindstryd gedwing.

♦  Die supermarkreus Spar het ook tydens die week, met die meer as 300 spelers teenwoordig, die hernuwing van sy borgskap bekend gemaak. Die nasionale span sal dus steeds as die Spar Proteas bekend staan.

Die R35 miljoen-borgskap sal volgens die uitvoerende bemarkingshoof van Spar, Mike Prentice, gebruik word om die Proteas as span, die internasionale toernooi waarheen van die wêreld se bestes genooi word om in Suid-Afrika te kom speel, die junior nasionale span, die jaarlikse nasionale kampioenskapstoernooi, die Premierliga, ontwikkeling, administrasie en die algehele bevordering van die sport te ondersteun.

(Inligtingsbron: netball-sa.co.za)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.