Proteas se wenrekord teen die Kiwi’s in gevaar

Argieffoto

Argieffoto

Ná die (amper letterlike) kleitrappery met Kingsmead se buiteveld, is die tweede toets, wat Saterdag op Centurion begin, beslissend in die tweetoets-reeks.

Suid-Afrika het na 13 reekse nog nooit ʼn toetsreeks teen Nieu-Seeland verloor nie en nou is daar net hierdie toets oor om dié rekord te behou.

Die probleem met die buiteveld in Durban was dat dit eers in Junie oorgelê is, aangesien hulle moes wag tot ná die Comrades-marathon wat Kingsmead as eindpunt gebruik het.

Die reën het op die tweede dag die spelers van die veld gejaag en daardie nag het 65mm geval. Daarna het dit nie weer gereën nie, maar die skade was reeds gedoen. Krieket Suid-Afrika kan ʼn waarskuwing of ‘n boete van tot $15 000 opgelê word oor die gevolglike fiasko.

Boonop het die KwaZulu-Natalse Krieketunie reeds derduisende rande verloor met die afgewaterde toets, wat onbeslis geëindig het.

♦ Centurion het ook ʼn nuwe buiteveld, wat reeds in April gelê is, wat in die tweede toets seker buitengewone aandag sal kry.

Altwee buitevelde van die huidige toetsreeks is verander na die klagtes van Suid-Afrika en Nieu-Seeland ná die eendaagse wedstryde verlede jaar.  Die buiteveld was glo te hard en dit het die spelers verhinder om met die nou aanvaarde glybeweging die bal te keer.

Rudolph du Preez, Supersportpark  se baanopsigter, het reeds drie weke gelede met die voorbereiding van die kolfblad begin. Hy het aan cricinfo gesê die kolfblad sal nie so lewendig wees soos in die somer nie. Dit sal moontlik meer soos ʼn Nieu-Seelandse, as ʼn Suid-Afrikaanse kolfblad speel.

♦  Dale Steyn en Vernon Philander het in Durban met hul terugkeer na die span net 12 boulbeurte gehad om Nieu-Seeland tot 15 vir 2 te beperk. Dit was eersteklas swaai- en naatboulwerk en het gesorg dat Suid-Afrika die toets in Centurion waarskynlik met ʼn tikkie meer selfvertroue as die besoekers sal binnegaan, ondanks die Proteas se kolfvertoning in Durban wat nie op standaard was nie.

Faf du Plessis en JP Duminy, die twee mees ervare middelkolwers, is (steeds) nie op dreef nie en Suid-Afrika het in elk geval ʼn lang kolfstert.

Stephen Cook en Dean Elgar sal as aanvangspaar hard moet werk om ʼn goeie fondament te lê en sodoende druk op die middelorde te verminder. Hashim Amla, hoop mens, sal nie weer so lekker wegspring net om konsentrasie te verloor nie.

Die kleine en ietwat onervare Temba Bavuma, het in Durban teen al ses die Kiwiboulers gekolf en het dus het hy ‘n goeie idee wat op hulle wag. Sy geduld was ʼn les vir die meer ervare kolwers.

As die reën wegbly en die buiteveld hou, belowe dit om ʼn interessante toetswedstryd te wees. Die vraag is egter: gaan die kolfblad vyf dae in die weer hou, of dalk soos altyd te gou uitdroog en dit te maklik vir die kolwers maak?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.