Proteas wen derde eendagwedstryd in Durban

Quinton de Kock het ’n praghonderdtal geslaan. Foto: Cricinfo.

Die doemprofete sal sê dat die Proteas hopeloos te veel op kolwers soos Faf du Plessis, Quinton de Kock en ook deesdae Rassie van der Dussen steun om hul lopies te slaan.

Maar hierdie keer kan ʼn mens op die positiewe konsentreer en dankie sê vir kolwers soos De Kock, Du Plessis en Van der Dussen want hulle het Suid-Afrika in staat gestel om ’n 331/5 in hul toegelate 50 boulbeurte in Durban aan te teken.

Veral De Kock (121) het ’n meesterklas aangebied en hy het sy 14de eendaghonderdtal geslaan. Sy vennootskap met Du Plessis (36) was lekker vinnig, terwyl Van der Dussen vir die kalmte gesorg het.

Daarna het David Miller (41), Dwaine Pretorius (31) en ’n blitsbeurt deur Andile Phehlukwayo (38 van 15 aflewerings) gesorg dat die tuisspan meer as 300 lopies op die telbord gehad het.

Sri Lanka se kolfbeurt het wankelrig begin en hulle het vroeg hul openingskolwers verloor. Veral Lungi Ngidi het ’n paar onspeelbare aflewerings afgestuur.

Die onweerswolke wat lank gedreig het, het uiteindelik ’n impak op die wedstryd gehad en spel is vroeg in Sri Lanka se beurt gestop.

Die besoekers moes toe spel hervat is 193 in 24 boulbeurte jaag vir ’n onwaarskynlike oorwinning. En hoewel Kusal Mendis (41) sy bes probeer het, het Imran Tahir (2/19) net weer eens sy waarde vir die Suid-Afrikaners onderstreep en Sri Lanka is tot 121/5 beperk.

Ná die toetsreeksfiasko is die drie agtereenvolgende kitsseges die perfekte doepa vir Faf du Plessis se troepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.