Proteas wen mik-en-moker-reeks

Dwaine Pretorius het ’n blitsige 77 aangeteken. Foto: GB Jordaan.

Geïnspireerde kolfwerk deur Dwaine Pretorius (77* van 42 balle), Reeza Hendricks (65 van 52 balle) en JP Duminy (34* van 14 balle) het die Proteas in staat gestel om die laaste T20-kragmeting op die Wanderers met 45 lopies te wen.

Sodoende het hulle dié reeks 3 – 0 beklink en onoorwonne uitgetree nadat hulle vroeër die toetsreeks verloor het.

Die Hoëveld sorg altyd vir groot tellings en vandag was geensins anders nie. Aiden Markram (15) is weer vroeg terug kleedkamer toe, maar Suid-Afrika het hul kolflysbuigsaamheid ten toon gestel toe Pretorius op nommer drie gaan kolf het.

Dié veelsydige speler van die Lions het sy kolfspiere gebult om sewe viere en drie sesse te slaan.  Sy vennootskap met Duminy was veral blitsig en hulle het die wind uit die besoekers se seile geslaan om ’n imposante 198/2 in hul toegelate 20 boulbeurte te slaan.

Nie een Sri Lanka-bouler (wat meer as twee boulbeurte afgestuur het) het minder as nege lopies per  boulbeurt afgestaan nie.

Daarna het Junior Dala (2/29) en Andile Phehlukwayo (4/24) nie net die lopiekrane toegedraai nie, maar hulle het gereeld ook paaltjies ingepalm.

Selfs ’n Hoëveldse storm kon nie die besoekers red nie en toe hulle weer voort gekolf het, moes hulle ’n hersiene telling van 183 in 17 boulbeurte jaag.

Hulle is egter in die 16de boulbeurt vir 137 uitgeboul.

Die reeksoorwinnings in die eendag- en T20-reekse vergoed waarskynlik nie vir die toetsnederlaag – veral vir die krieketfynproewer – nie, maar met die Wêreldbeker slegs ’n paar maande weg, is oorwinnings baie welkom.

Selfs al is Faf du Plessis se span nie een van die gunstelinge om die silwerware in Engeland omhoog te lig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanL ·

Alhoewel die T20 formaat bietjie verskil van 50 boulbeurt ODI krieket, dink ek tog dat die afrigterskorps dit reggekry het om spelers soos Hendricks, vd Dussen, Pretorius, Duminy en Miller kanse te gee en vertroue te laat bou. Pretorius se beurt sal hom baie selfvertroue gee vir die Wereldbeker. Al wat nou oorbly is finale spankeuse – waar ek dink die grrot vraag gaan wees : Amla of Hendricks. Die res van die span is waarskynlik welbekend by die afrigter.

Net een laaste kwessie – die spelers moet regtig onthou dat hulle ook daar is vir hul ondersteuners. Baie baie geluk aan veral JP Duminy, Shamsi en Dale Steyn vir die wyse waarop hulle Vrydagaand na die wedstryd bly handtekeninge uitdeel het. Kan nie genoeg lofprysing gee nie. Net jammer dat Sipamla nog moet leer hoe om sy roem te hanteer – hy het geweier om ‘n handtekening vir enige persoon te gee. Toegegee hy is nog jonk en sal leer.

PR ·

Die Proteas lyk gelukkig en ons is trots op hulle. Ja, dit is jammer van die toetsreeks wat ons verloor het anders was dit ‘n 100% sukses somer.
Ongelukkig kom daar ‘n tyd om te gaan. Amla was ‘n wonderlike speler en is steeds ‘n pragtige mens. Ongelukkig bly sy spelpeil nou te lank swak en met die standaarde wat hy aan hom self stel het sy selfvertroue dalk ook ‘n knou weg. Ondervinding kan nie gekoop word nie, maar dit is dalk tyd om nou eerder Hendricks te kies. Hy is ook ‘n briljante veldwerker. Soos met Kallis en AB sal Amla nooit vergeet word nie. Altyd beter om eerder self uit te tree as om weg gelaat te word.

Puris ·

Maar verloor in die regte krieket – 5 dag – om tuis teen SL 20/20 te wen is nou nie n prestasie nie, net n manier om ons spelers se egos te lig vir die CWC waar ons beslis weer gaan choke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.