Proteas wys staal in mini-finaal

Faf du Plessis, Andile Phehlukwayo en Rassie van der Dussen vier ’n paaltjie. Foto: Cricinfo.

Een swaeltjie maak nie die somer nie. Net so maak een Protea-oorwinning in ’n móétwenwedstryd hulle nie ook skielik gunstelinge om die komende wêreldbeker (uiteindelik) te lig nie. Maar jy begin effens meer regop in jou gemakstoel te sit en jou mondhoeke wil amper begin glimlag.

Toe Dale Steyn gistermiddag vir Imam-ul-Haq (die voorste lopiemaker) goedkoop uitgeknikker het en hy ’n kolwer of twee teen die kopskerm getref het, het mens gedink dit is dalk sy en Rabada se dag – waar hul vaart en aggressie net te veel vir Pakistan sou wees

Tog was dit eerder die medium vinnige aflewerings van Andile Phehlukwayo (2/42), Dwaine Pretorius (2/46) en Wian Mulder (1/20) wat die besoekers se vordering gekniehalter het. Die driemanskap het tussen hulle vyf paaltjies geneem en gesorg dat Pakistan tot 240/8 in hul toegelate 50 boulbeurte beperk is.

Veral Phehlukwayo verdien ’n pluimpie vir sy vertoning met die bal in die reeks. Hy is die voorste paaltjievraat met agt paaltjies in sy wedstryde teen ’n gemiddeld van 24.37 lopies per paaltjie.

Mens het die gevoel gekry dat Pakistan se telling op die Nuwelandblad te min is, maar mens weet nooit wat om van die Proteas te verwag wanneer hulle lopies in ’n drukwedstryd moet jaag nie.

Quinton de Kock was egter vuurwarm vir die Cape Town Blitz in die afgelope Mzansi Superliga en hy het sy Nuweland-spelpeil net voortgesit met ’n skitterende 83 van 58 aflewerings.

Hy het haakhoue en omgekeerde veeghoue na hartelus gespeel en die Pakistanse boulaanval sommer vroeg op die agtervoet geplaas. Toe hy in die 21ste boulbeurt uitgehaal is, het Faf du Plessis (50*) en Rassie van der Dussen (50*) rustig voortgekolf om die Proteawa deur die drif te trek.

Veral Van der Dussen se kolfhelddade behoort Otis Gibson te laat glimlag. In sy eerste eendagreeks het die Johannesburgse kolwer 241 lopies teen ’n gemiddeld van 120.50 geslaan. Sy treftempo van 76.26 is nou weliswaar nie te watwonders nie, maar min van die topkolwers in die reeks se treftempo was meer as 90 lopies per 100 balle.

Trouens, Ul-Haq (81), Hashim Amla (86), Reeza Hendricks (81) of Babar Azam (83) se treftempo was ook nie veel beter nie. En hulle tel onder die topvyf lopiemakers in die reeks.

Wees dus bly die Proteas het nie onder die druk gevou nie, maar hou maar nog al jou duime vir die span vas gedurende die wêreldbeker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Robert ·

Ek voorspel ‘n vinnige einde van die krieketspan se poging om die WB :-(

JohanL ·

Ek wil kortliks paar dinge uitlig:
– reeks was baie gelykop wat te wagte was, Pakistan en SA is bymekaar op ODI ranglys
– uit die 2 verloorwedstryde, het ons 1 wedstryd “sleg” verloor en 1 naelskraap (in laaste boulbeurt)
– al 3 wenwedstryde, het ons “redelik gemaklik” gewen
– die wen in die laaste (effektief uitklopsituasie) wedstryd is positief
– Rassie vd Dussen het keurders en spelers se kaarte “deurmekaar” gekrap – mooi so Rassie.
– die gebrek aan ‘n ware veelsydige speler wat uitstaan pla bietjie. Baie kandidate maar nie een staan uit nie. Nie seker wat Chris Morris se situasie is mbt beserings nie.
– spankeuse gaan moeilik wees, veral met die allewige irriterende kleurkwota wat inkom. Was ons sport maar net normaal.

Ek het so 3 jaar gelede statistiek van alle ODI wedstryde gaan trek sedert ek kon kry. Het toe gaan kyk na wenpatrone en ‘n gemiddelde “lengte” bepaal van wedstryde wat opeenvolgens deur die Proteas gewen word. As reg onthou (het nie die syfers meer by my nie) was die gemiddelde opeenvolgende wen-wedstryde 4 komma ietsie gewees.

Maw die Proteas sal NIE onoorwonne deur CWC 2019 gaan nie. Hopelik kelder hul verloorwedstryde hulle nie uit ‘n semi-finaal nie en hopelik kan hulle dan wel 2 wedstryde opeenvolgens wen :)

Robert ·

JohanL: hulle gaan nie eens die semi’s haal nie. Die paki’s, windies is met opwaardtse kurwe en Indie, NZ, Engeland is nie oorloop nie. Ons bestuurspan maak te veel staat op ons boulers om die kastaiings uit die vuur te krap. As die eerste 3 kolwers van ons vou dan is dit afdraande en dit is duidelik gewys in hierdie reeks, middel orde nie veel werd nie. Sri Lanka by ons is geen maatstaf hoe die span vertoon nie. Die Aus het hulle afgeslag so ook NZ. So ek sien swaarigheid vorentoe.

JohanL ·

Dankie Robert vir verduideliking – elkeen geregtig op sy opinie.

Met elke span wat 9 wedstryde speel voor ons by semi’s uitkom, glo ek wel dat dinge baie interessant gaan raak. Terloops ‘n formaat wat 1992 laas gespeel was en wat ek meer ondersteun as die klomp verskillende groepe.

Bitter moeilik om te voorspel, maar my “gut” gevoel is dat as ‘n span net 2 wedstryde (of natuurlik minder) in groepfase verloor, hy in semi’s gaan wees. Spanne wat 3 wedstryde verloor – dalk kan sulke spanne op lopietempo dan inglip, maar ek weet net sulke spanne kan net so maklik uitval ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.