Rassie en Andile speel met pure Protea passie

Rassie van der Dussen het sy 93 op debuut met ’n onoorwonne 80 opgevolg. Foto: Cricinfo.

Dit het dalk vir Rassie van der Dussen ’n wyle geneem om sy debuut vir die Proteas te maak – hy was 29 jaar oud toe hy sy eerste internasionale witbalwedstryd gespeel het – maar goeiste, wát ’n impak het hy nie tot op hede gemaak nie!

In die twee wedstryde teen Pakistan het hy tot dusver amper 200 lopies teen ’n puik gemiddeld van 173 geslaan. Hy het eers 93 op ’n stadige St. George’s geslaan, waarna hy gisteraand uitstekend met Andile Phehlukwayo gekombineer het om die kastaiings uit die vuur te krap.

Hoewel die Proteas net 203 lopies moes jaag om die tweede kitswedstryd in Durban te wen, was hulle beenskutdiep in die moeilikheid op 80/5. Shaheen Afridi het verspot maklik met Hashim Amla, Reeza Hendricks en Faf du Plessis afgereken, waarna David Miller (31) en Van der Dussen wal gegooi het.

Miller en Heinrich Klaasen is egter met opeenvolgende aflewerings uitgehaal en die tafel was gedek vir nog ’n Pakistanse kitssege.

Maar Phehlukwayo het ander idees gehad. Sê wat jy wil van hom as speler – hy lyk nie altyd so flambojant soos David Miller of so talentvol soos AB de Villiers nie – maar hy kry dinge net reg. Vroeër die dag het hy Pakistan met sy medium /vinnige aflewerings getreiter en vier spotgoedkoop paaltjies ingepalm.

Met die kolf het dit gelyk asof hy enige oomblik sy paaltjie gaan verloor – veral teen die goëlballe van Shadab Khan (2/46). Tog het hy met elke mokerhou, moedswillige veeghoutjie en wilgerlatklap die besoekers net meer en meer getreiter.

Andile Phehlukwayo is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Foto: Cricinfo.

Hy het uiteindelik ’n onoorwonne 69 geslaan en hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Sy beurt het mens baie aan sy heldedade saam met Miller teen Australië – ’n seisoen of wat gelede – laat dink.

Daarteenoor was Van der Dussen die kalm kaptein wat die Proteaboot na rustiger waters gebring het. Sy 80 lopies het in 123 aflewerings gekom en dit het net nege grenshoue ingesluit. Maar anders as Saterdag se kragmeting in Port Elizabeth, was kalm kolfwerk hier in Durban broodnodig gewees.

22 Januarie 2019 kan die dag wees waarop Andile Phehlukwayo sy stempel finaal afgedruk het as Suid-Afrika se prima veelsydige speler. Dit is ook die dag waarop Rassie van der Dussen sonder twyfel sy wêreldbekerkleim afgesteek het.

Die volgende wedstryd is Vrydag op SuperSportpark. Die eerste aflewering word om 13:00 afgestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Aanvangskolwers misluk en boulers sukkel om van stert kolwers ontslae te raak.Voorspel niks goed vir wêreldbeker nie.

Jack Russl ·

Ja, ek weet nie wat is dit met SA en die stert kolwers nie. Ons sukkel gereeld met hulle.

SA wil heeltyd opslag balle gebruik. As jy nie op die paaltjies boul nie, kan jy dit nie tref nie. Hoekom nie die stert kolwers twee of drie opslagballe gee en dan een streepbal op die penne. Dis moet ‘n geval wees van “you miss, I hit”, nie hulle koppe probeer afboul nie

JohanC ·

Ek stem eenhonderd persent saam met Frans C
Die meeste van ons sogenaamde toporde kolwers is pateties en speel net vir hulle eie ego-en die boulers moet die meeste van die tyd die kastaaings uit die vuur krap
Ek voorsien dat ons met die wereldbeker VERSEKER weer gaan “choke” -Faf se verduidelik sal wees: ons het baie geleer

JohanL ·

Is dit nie bietjie kras om te reken die aanvangskolwers misluk nie? In PE het hulle puik gedoen om ‘n uitstekende basis te gee? Kom ons kyk dalk eers wat gebeur in die res van die reeks en lewer dan uitsprake. Ons weet immers krieket is maar eintlik in wese ‘n snaakse spel.

Persoonlik my opinie (op hierdie stadium) oor 3 spelers.
– Klaassen se vlammetjie is geblus. Hy sal nooit de Kock kan lig nie en om hom saam te neem Wereldbeker toe, sal ‘n mors wees. Hy sal nie speel nie en kan eerder iemand anders saamvat.
– Rassie vd Dussen is “baie lelik” :) :) Hy krap nou Otis Gibson se kaarte deurmekaar en maak dinge baie moeilik. Welgedaan Rassie – doen so voort. As jy die res van die reeks so voortgaan, dan moet jy dalk net seker maak jou paspoort is nog geldig.
– Phehlukwayo, baie geluk met jou vertoning Dinsdag – welverdiend Speler vd Wedstryd. Maar of jy my antwoord is as veelsydige speler – ongelukkig nie. Te veel ondergemiddelde vertonings met net elke dan en wan ‘n wenvertoning soos Dinsdag.

Sterkte aan Otis – maak nie saak wie hy kies nie, daar gaan ongelukkiges wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.