Rassie, ‘Supa-Piet’ met toekennings vereer

Suid-Afrika se Olimpiese swemmer Tatjana Schoenmaker (Foto: @southafricasportimages en @Team_Mzansi/Instagram)

Plaaslike uitnemendheid in sport is gisteraand tydens die 15de SA Sporttoekennings-geleentheid in Durban gevier waar van die land se grootste sportsterre vereer is.

Dit was nie ’n groot verrassing nie toe Tatjana Schoenmaker met twee van die grootste pryse weggestap het.

Suid-Afrika se goue swemmer het met ’n paar skittervertonings by die Olimpiese Spele in Japan vorendag gekom en sy is welverdiend as die sportvrou van die jaar, sowel as die sportster van die jaar aangewys.

“Dit is ’n onwerklike gevoel. Hierdie toekenning word opgedra aan elke atleet wat volhard en nie moed verloor nie. Ek sê altyd dat ’n gelukkige swemmer ook ’n vinnige swemmer is. Jy moet lief wees vir jou sport, want jy word toegelaat om dit te doen,” het Schoenmaker gesê.

Dan het rugby die septer in verskeie kategorieë geswaai: SA Rugby, Rassie Erasmus, die Springbokke, Makazole Mapimpi en Siya Kolisi het almal toekennings ontvang.

Die vlugvoetige Mapimpi – wat reeds 20 drieë in 25 toetse vir die Springbokke gedruk het – is Suid-Afrika se sportman van die jaar.

Makazole Mapimpi op pad om ‘n drie vir die Bokke teen Wallis te druk. (Foto: Twitter/Springboks)

Dit het spelers soos Bryan Habana en Jacque Fourie onderskeidelik 27 en 35 wedstryde geneem om hierdie mylpaal te bereik.

Die vlugvoetige vleuel het veral sy afrigters vir hul ondersteuning bedank.

So van afrigters gepraat: Erasmus is as die land se voorste breier aangewys, terwyl die Springbokke die span van die jaar is.

Pieter “Supa-Piet” du Preez en Anruné Weyers is vir hul heldedade by die Paralimpiese Spele in Tokio vereer.

Die gewilde Du Preez het Suid-Afrika se vierde medalje by die Spele ingeoes toe hy goud gewen het in die handfietsry-item. Hy het met ’n tyd van 43:49.41 koning gekraai; amper twee minute vinniger as Italië se Fabrizio Cornegliani in die tweede plek.

Weyers het op haar beurt die 400 m (T47-kategorie) by die Tokio-skouspel gewen.

  • Van die aand se wenners:

Nasionale sportbeheerliggaam van die jaar: SA Rugby

Nuweling van die jaar: Miné de Klerk

Span van die jaar: Springbokke

Sportman van die jaar (gestremde atlete): Pieter du Preez

Sportvrou van die jaar (gestremde atlete): Anruné Weyers

Afrigter van die jaar: Rassie Erasmus

Sportvrou van die jaar: Tatjana Schoenmaker

Sportman van die jaar: Makazole Mapimpi

Publiek se sportster van die jaar: Siya Kolisi

Sportster van die jaar: Tatjana Schoenmaker

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.