Rebel-netbal herleef op die Kaapse Vlakte

Die Inspire-netbalspan in aksie. Foto: Eunice Stoltz.

Suid-Afrikaanse netbal was die afgelope tyd opnuut in die kollig nadat die Proteas vierde in die Vitality Netbal-Wêreldbeker 2019 geëindig het en meer onlangs ook die Afrikabeker in Kaapstad verower het.

Op die Kaapse Vlakte is daar ook ʼn vorm van netbal wat groot skare bymekaar bring…

Die fluitjie blaas. Die skeidsregter roep: “Voetfout!”

Smiddae is dit kaalvoete, tekkies of pantoffels teen die teer op die maat van fluitjieblaas wat aandui: Rebel-netbal op die Kaapse Vlakte word herleef!

Rebel-netbal, ook genoem straatnetbal, is ʼn balsport enig in sy soort aan die inwoners van die Kaapse Vlakte. Soos Igshaan Brenner, skakelbeampte van die Kaapstad Netbalfederasie (WP), dit stel: “Dit is ʼn sport wat, as ek dit so mag stel, deur die bruin mense gespeel word.”

Dié unieke wyse van netbal bestaan sedert die vroeg sestigerjare. Brenner meen dit was nog altyd daar wanneer hy sê: “It has forever been in existence.”

Kinders so jonk as ses jaar oud, asook volwassenes in, onder meer, Elsiesrivier, Manenberg, Hanover Park, Mitchells Plain tot so ver as Atlantis langs die Weskus, kom in hul onderskeie uitbreidings bymekaar om netbal te speel.

Rebel-netbal weerspieël ʼn unieke geesdrif en kultuur onder die inwoners van die Kaapse Vlakte.

Wanneer Brenner uitbrei oor die rede waarom Rebel-netbal begin het sê hy: “Daai tyd (tydens apartheid) was daar nie ʼn liga vir die mense om by aan te sluit nie. Toe begin Rebel-netbal om vir hulle daai opportunity te gee.

“Daar is ook ongelooflik baie spanne. Dit is crazy, dit is open for all. Niemand hoef te registreer nie” sê Brenner.

Hoewel die sportlandskap sedert 1994 drasties verander het, is Rebel-netbal steeds ʼn weeklikse aktiwiteit op Die Vlakte. Wanneer jy Brenner uitvra waarom dié tipe netbal steeds beoefen word, antwoord hy ernstig dat dié sport vandag oor “bragging rights” gaan.

“Die kinders, hulle kyk uit daarna. Wanneer Bellville teen Loevenstein speel en een wen, dit beteken baie vir hulle, want ons is mos nou beter as julle,” verduidelik Brenner.

Sondae is dit Rebel-liga. Teen vroegmiddag begin die onderskeie uitbreidings teen mekaar die stryd aansê. Dit is Springbok Place teen Infinity in Elsiesrivier of Candice Court teen Aletta Court in Manenberg. Die ligas word nie deur ʼn beheerliggaam of organisasie bestuur nie. Dit gebeur weekliks net vanself.

As president van die Weltevrede Netbalklub asook voorsitter van die Mitchells Plain Netbalunie, glo Brenner dat Rebel-netbal ook ʼn sleutelrol vertolk in die ontginning en ontwikkeling van plaaslike talent.

“Op WP-vlak is daar baie van die goeie spelers wat van daai groepe afkom. Daar is nie ouderdomsgroepe by Rebel-netbal nie. As dit ʼn onder 15-groep is, sal hulle soms vir ʼn 11-jarige vra om die span vol te maak. Dan kry sy daai ondervinding. Dan, wanneer sy 15 is, het sy al soveel ervaring.”

Christine LeRou, ʼn 63-jarige inwoner van Elsiesrivier, speel sedert ʼn jong ouderdom straatnetbal. LeRou woon skuins oorkant ʼn gereelde bymekaarkomplek waar straatnetbal gespeel word. Wanneer die geleentheid hom voordoen, sal sy selfs vandag nog haar tekkies aantrek om vir haar straat te speel.

Beide LeRou en Brenner erken dat straatnetbal vir ʼn geruime tyd nie gespeel is nie nadat die Wet op Groepsgebiede tydens apartheid duisende mense na Die Vlakte sien verskuif het. Die strate was stil, geen fluitjie het die begin van ʼn ligawedstryd aangekondig nie en kinders het nie smiddae in strate bymekaar gebondel, gereed vir netbaloefening nie.

Vandag is dit egter weer Rebel-netbal wat nie net die gemeenskap uit hul huise dwing nie, maar deelnemers ʼn reddingsboei bied binne ʼn omgewing wat met bendegeweld, armoede en misdaad gekenmerk word.

Soos die jong deelnemers, Allysia (13) en Desnay (14) Lewis.

Dié twee sussies, Allysia en Desnay, is albei van Elsiesrivier en neem getrou deel aan hul straat se netbalspan bekend as die Inspire-netbalspan. Soos die jong Allysia dit stel: “Ons speel netbal, nie net om te wen nie, dit is fun.

Elsiesrivier is Allysia se grootworddorp. Dit is daar waar sy en haar sussie, Desnay, saam met hul ouers en ouer suster woon. Deur straatnetbal vind beide die sussies ʼn vastigheid en hoop wat andersins nie daar sou gewees het nie. Allysia is een van die min junior spelers wat vir hul straat se junior én senior netbalspan uitdraf.

Sy is ook ʼn spogleerling in wiskunde en wanneer sy nie skoolwerk doen nie, vorm sy deel van die niewinsgewende-organisasie, Inspire Network, se Spiritual Dancers in Elsiesrivier. Sy is ook goed in gatties (albasters speel), vertel haar maats.

Die Inspire-straatnetbalspan word deur ʼn oudnetbalafrigter en speler, Joleen Matthee (45) afgerig.

“Ons speel omdat ons lief is vir die game. Ons geniet dit. Die kinnes [sic] geniet hulle gate uit” sê Matthee.

Sy vertel dat sommige van die meisies nie voorheen kon netbal speel nie. Vandag kan dieselfde meisies uitsien na die oefening en kán hulle nou die spel speel. En uitmuntend ook!

Matthee is nie slegs verantwoordelik vir die afrigting nie, maar vertolk die rol van ʼn ma, versorger en berader vir baie van die spelers. Dit is vir Joleen belangrik om wanneer sy met die span werk, vir hulle fisiese vaardighede, maar ook lewensvaardighede aan te leer.

“Ek sê altyd vir hulle jy moet sportmanskap hê. Jy kan nie net gaan om te wen nie. Jy moet bereid wees om te verloor.” Terselfdertyd word respek en kameraadskap by die spanne gekweek.

“Hulle maniere is baie beter. Die netbal bring hulle nader aanmekaar. Hulle sien uit daarna.”

Straatnetbal het ʼn uitkringende effek op die gemeenskap. Joleen vertel dat sedert sommige van die kinders begin netbal speel het, hulle ook aan inisiatiewe wat tuinmaak en die verf van parke insluit, begin deelneem het. Ook sal ouers wat voorheen binnenshuis sou sit, nou buitentoe gaan om die opwinding van ʼn Sondagliga of oefening te geniet. Of soos een van die spelers dit stel: “Sondae hou hulle van drankies, nou word dit weggesit en kyk hulle netbal.”

Brenner vertel ook: “U sal nie glo nie wanneer hulle eintlik speel, die gangsters in die community is dan taamlik stil. Hulle respekteer die wedstryde.”

Kies om te Rebel.

Slegs spelers, ʼn netbalbal en doelpale is nodig om jou eie straatspan te begin. Somtyds word daar met ʼn effense opgebruikte netbalbal geoefen en die handgemaakte pale wat in ronde sementblokke gegiet is, dien as doelpale. Daar word ook sommer met kryt lyne getrek om die veld op die teer in te deel.

Maar wanneer jy inwoners vra wat mens eintlik kort om Rebel-netbal moontlik te maak, antwoord hulle soos een: “ʼn Gemeenskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert van Wierdapark ·

Wat n wonderlike storie! Dankie vir die berig M/Media. Sulke positiewe bydraes van gemeenskappe moet ondersteun word!!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.