Red Bull gee branderplanke vlerke

Joshua Emanuel is een van die wêreld se vlieërplanksterre. Foto: Facebook

Vir die meeste vakansiegangers is die wind in die Kaap ’n steen des aanstoots. Maar vir adrenalienverslaafdes maak dit juis van die Kaap ’n mekka vir effens gewaagde sportsoorte.

Die 2019 Red Bull King of the Air-kompetisie spring Saterdag op Kite Beach naby Blouberg weg vir twee weke se aksie – die vlieërplankentoesiaste sal eers weer op 10 Februarie land.

Van die wêreld se voorste vlieërplankryers soos Aaron Hadlow, Jesse Richman, Kevin Langeree, Nick Jacobsen sal hul toertjies en waagmoed op Blouberg uitstal. Dan sal Suid-Afrika se Joshua Emanuel en Ross-Dillon Player hoop die Kaapse winde waai in hul guns.

Emanuel het in 2004 met die sportsoort in Durban begin, maar het vier-en-’n-half- jaar gelede na Kaapstad verhuis – ’n skuif wat hom nuwe hoogtes laat bereik het.

Die Red Bulle King of the Air-kompetisie begin Saterdag op Kite Beach. Foto: Facebook.

“Die doel van die Red Bull-kompetisie is om die grense van die sportsoort te skuif. Ons wil méér toertjies doen en probeer om so wild as moontlik in die lug tekere te gaan.”

Vlieërplankryers skiet letterlik die hemele in wanneer hulle deelneem en Emanuel se hoogste sessie was ’n verstommende 29 m – basies hoër as jou gemiddelde skoolkoshuis.

“Ja ek sukkel eintlik met hoogtevrees,” sê hy laggend. “Maar wanneer ek op my vlieërplank is, dan is ek kalm en op my gemak.”

Emanuel was die wenner van die Red Bull Megaloop-kompetisie in 2017 en word as een van die beste vlieërplankryers ter wêreld gereken.

“Ek bly fiks deur tyd in die gimnasium deur te bring; ʼn mens moet jou liggaam kondisioneer vir die impak wanneer jy die water tref. Maar verder bring ek net soveel as moontlik tyd in die water deur. Dit is sonder twyfel jou beste voorbereiding.”

Die deelnemers aan die 2019 Red Bull King of the Air-kompetisie is:

Aaron Hadlow (Verenigde Koninkryk – wenner in 2015 en 2016)
Aurelien Petreau (Frankryk)
Carlos Mario (Brasilië)
Gijs Wassenaar (Nederland)
Jerrie van de Kop (Nederland)
Jesse Richman (VSA en wenner in 2013)
Joshua Emanuel (Suid-Afrika)
Kevin Langeree (Nederland en wenner in 2014 en 2018)
Lasse Walker (Nederland)
Lewis Crathern (Verenigde Koninkryk)
Liam Whaley (Spanje)
Marc Jacobs (Nieu-Seeland)
Nick Jacobsen (Denemarke en wenner in 2017)
Ross Dillon Player (Suid-Afrika)
Ruben Lenten (Nederland)
Sam Light (Verenigde Koninkryk)
Steven Akkersdijk (Nederland)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.